Sirkel:  Namakwaland

Tak:  Hantam

Portefeulje:  Landbou & Tuinbou

Beriggewer:  Janine Brynard

Datum: 22 Augustus 2016

 

Ons woon in ‘n streek wat absoluut gekenmerk word vir uiterste weerstoestande.  Op die oomblik voel ons almal aan die lyf hoe straf die droogte is.  Ons winters raak ysig en ons somers is genadeloos.  Maar selfs al het ons nie die luukse van gematigde, subtropiese klimaatstoestande nie, hoef dit nie die entoesiastiese tuinier sy vreugdes te ontneem nie.  Al wat hy nodig het, is ‘n klein houer, min water en hope kreatiwiteit!

 

 

Hantam VLV se Landbou & Tuinbou-vergadering, was vanjaar by Talitha de Waal se Kwekery.  Sy het gewys hoe om miniatuurtuintjies te maak, wat almal se sak pas én ons water-krisis akkommodeer.  Op die foto van links is Talitha, Ilizna van Schalkwyk (saamroeper van die vergadering)  Emjee Louw en Anna Visagie (hulpe)

 

Hantam VLV het vanjaar hul Landbou & Tuinbou-vergadering gehou by Talitha de Waal se Calvinia Gastehuis en kwekery.   Sy het die behoefte raakgesien en ingespring om ‘n diens te lewer aan tuin-liefhebbers.  Talitha se plante is van ‘n baie goeie kwaliteit en ‘n wye reeks soorte en spesies word aangebied.  Talle tuin-bykomstighede is geredelik beskikbaar.  Sy doen ook graag moeite om iets besonders in die hande te kry, sou daar ‘n behoefte voor wees.  Ons behoefte was dan om meer te kon leer hoe om ‘n miniatuur- tuintjie te maak, aangesien tuinmaak deesdae ‘n uitdaging geword het.

 

 Pragtige idees van miniatuurtuintjies, wat Talitha gemaak het.  Kreatiwiteit is die wagwoord!

 

Dit is deesdae groot mode om op klein skaal tuin te maak.  Alhoewel water ‘n wesenlike probleem is, woon al meer mense in kleiner skakelhuise, wat slegs ‘n verskoning vir ‘n tuin het.  Dan is die miniatuurtuinmaak tendens ideaal.  En die idees is legio!  met geen beperking op kreatiwiteit nie.  Daar is egter ‘n paar faktore om in ag te neem:  Kies ‘n houer wat goeie dreinering toelaat, anders gaan die plante verrot.  Gebruik plante wat min-of-meer dieselfde waterbehoeftes het.  So nie, kan sommiges floreer, terwyl ander kwyn.  Gebruik altyd ‘n goeie kwaliteit potgrond en moenie vergeet van voeding nie…al is dit op kleiner skaal.

 

In Talitha de Waal se kwekery, staan hierdie pragtige miniatuur-tuin.  Dit skep ‘n treffende fokus-punt vir enige tuin.

 

Besluit waarvan jy hou en ook waar die miniatuurtuintjie moet wees.  Gebruik gerus verskillende kleure en teksture plante en plant dit dig op mekaar of losweg gerangskik.  Laat jou kreatiwiteit los en gebruik oulike bykomstighede.  Dit is in enige handwerk-winkel of tuinsentrums beskikbaar. Moet ook nie die kinders se speelgoed-kis vergeet nie!  Daarin is soveel skatte wat in ‘n miniatuurtuintjie al te skattig kan lyk.  Bou huisies uit ou waterbotteltjies, maak trappies, paddastoeltjies, diertjies en alles wat jou hart begeer.  Verf, podge, piouter en mosaïek die goedjies…solank jy net tuin maak!  Sit jou miniatuurtuintjie waar jy dit elke dag kan bewonder en kyk hoe gou dit vir almal om jou vreugde verskaf.