Sirkel:                         Namakwaland

Tak:                             Hantam

Portefeulje:                Landbou & Tuinbou

Beriggewer:               Janine Brynard

Datum:                       22 Augustus 2016

 

 Daar is byna geen huishouding meer in ons land, wat nie ‘n troeteldier as huismaat het nie.  Gewoonlik word hulle aangeskaf om ‘n maatjie te wees vir die kinders, maar kort-voor-lank raak dit die vreugde én verantwoordelikheid van die grootmense.  Veral honde en katte verg nie veel meer aandag as bloot goeie kos, liefde en ‘n skoon slaapplekkie nie, of hoe?

 

Die basiese behoeftes van jou troeteldier kan vasgevang word in die term:  voorkoming.  Tydens Hantam VLV se Landbou & Tuinbouvergadering het dr Bertus Nel die dames bewus gemaak van hoe belangrik dit is om jou diere te versorg sodat hulle optimaal kan lewe.  Die eerste stap in diere-versorging is beslis inenting.  In ‘n hond sluit dit ‘n inspuiting in op 6, 9 en 12 weke van die hondjie se lewe, net soos met ‘n baba.  Net soos wat ons nie wil hê dat ons kinders ‘n gevreesde siekte soos polio moet opdoen nie, moet ons sorg dat ons honde se weerstand teen siektes, soos hondsdolheid, ook opgebou word.  Ontwurming in honde en katte is van uiterste belang, veral as jy wil keer dat die wurms na jou kinders oorgedra word.  Die probleem egter met ontwurmings-middels, is dat dit slegs effektief is om die bestaande wurms te dood, maar nie nuwe wurms ook sal verwyder nie.  En ‘n klein hondjie eet graag enige gemors.  Maak dus seker dat hulle gereeld ontwurm word!  Sorg ook dat jou dier behandel word met middels om vlooie en bosluise weg te hou, ter wille van sy eie welstand, maar beslis ook jou eie.  Dis aaklig om jou bed of rusbank met ‘n spul vlooie te moet deel!

 

‘n Ander baie belangrike aspek in die kwessie van troeteldiere, is sterilisasie.  Indien jy nie met jou diere wil teel nie, moet dit so gou as moontlik, nadat die dier 6 maande oud geraak het, gedoen word.  Daar is byna geen voordele vir die dier om nie gesteriliseer te word nie, maar legio nadele.  Veral wat die aanwas van ongewenste diere betref, is dit maar ‘n tragiese prentjie wanneer ongesteriliseerde diere vry rondloop.

 

En dan sal daar seker áltyd ‘n debat heers oor die regte kos vir jou troeteldier.  Die troeteldier-eienaar kan regtig oorweldig voel wanneer kos aangekoop moet word, want daar is letterlik duisende handelsmerke op die rakke beskikbaar.  En elkeen wil jou oortuig om juis sý produk te koop.  Die eenvoudige antwoord is:  hoe meer jy betaal, hoe beter is die produk.  Die rou materiale wat gebruik word in die samestelling van veral droë korrels, bepaal die prys.  Indien slegs ‘n groot hoeveelheid mielies en ander goedkoper stysels gebruik word, en minder proteïne, sal die sak kos goedkoper wees.  Die probleem is, dat jy die bewyse op jou grasperk gaan sien….hope en hope en hope vol!  Indien jou hond ‘n beter kwaliteit korrel eet, gebruik sy liggaam byna al die voedingstowwe en skei minder uit.  Sy algemene gesondheid gaan ook beter wees, want hy neem nie net leë kalorieë in nie.  Katte kan nie stysel en groente verteer nie en moet dus slegs goeie proteïne eet.  Dit is dus glad nie gesond vir ‘n kat om hondepille en pap te eet nie.  Verder moet jou diere ook baie min, of eerder glad nie melk kry om te drink nie.  Hulle het nie die ensieme om dit te verteer nie.

 

Net soos met mense, tree ouderdomskwale in wanneer jou troeteldier verouder.  Daar is deesdae fantastiese middels teen algemene siektes soos rumatiek, hartprobleme, nierprobleme, doofheid en blindheid en selfs kanker.  Moenie toelaat dat jou dier onnodig swaarkry nie.  Die veearts het heel waarskynlik ‘n aanvaarbare oplossing.  Indien jou troeteldier eenvoudig net te oud en swak geword het om ‘n kwaliteit lewe te ly, is dit jou as eienaar se verantwoordelikheid om dáárdie moeilike besluit te neem.  Jy moet onthou dat dit slegs jóú emosies is wat ‘n rol speel en as jy jou dier regtig ‘n guns wil doen, sal jy hom eerder op ‘n waardige manier laat uitsit, as om hom te laat ly en swaarkry vir sy laaste dae.

 

Dr Bertus Nel, veearts van Calvinia, het die dames van VLV toegespreek tydens hul Landbou & Tuinbou vergadering.  Hy het veral gefokus daarop, om jou troeteldier te versorg, sodat dit optimaal kan lewe.  Op die foto verskyn Emjee Louw (hulp vir die vergadering), Ilizna van Schalkwyk (saamroeper van die vergadering) Dr Bertus en sy vrou, Inalene Nel en Anna Visagie (Hantam VLV – hulp vir die vergadering)