Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Studierigting: Landbou & Tuinbou

Beriggewer: Lettie Van Wyk

Datum: 18 Augustus 2016

 

Op ‘n pragtige sonskyndag het ‘n groepie van 11 lede uit Brackenfell in drie motors vertrek na die Alpaca Loom Coffee Shop & Weaving Studio op die Suid- Agter Paarlpad.   Ons is hartlik verwelkom deur die eienaars en kon heerlik koffie drink en smul aan eetgoed.

 

Daarna het Dietmar ons vertel hoe hulle die Alpakkas gevestig het op die plaas.   Die pragtige koffiewinkel en winkeltjie waar die geweefde artikels verkoop word, is gebou uit hout wat vanaf die plaas afkomstig is.   Daar is 11000 skroewe gebruik gedurende die oprigting van die gebou.  Die stoele en tafels is ook eiehandig deur hulle gemaak.   Die wol wat in die weefproses gebruik word, is  die oorspronklike natuurlike kleur.  Daar is 12  kleure met baie variasies.   Die Alpakkas word een maal per jaar in September  geskeer.   Hulle kry dieselfde siektes as skape en word dan in afsondering gehou.

 

20160818_110914

Dietmar besig met sy praatjie

 

Die groep word op ‘n toer geneem na die skuur, waar die alpakkas ook snags slaap.   Die ooie met  lammers word beskerm deur ‘n dominante matriarg wat maar altyd op wag is.

 

Nelanie is deur ‘n spoegstreep voor die kop getref toe sy ‘n foto wou neem, tot groot vermaak van almal!

 

Alpakkas word doeltreffend gebruik om skaaptroppe op te pas, en sou ‘n lammertjie agterbly, sal die alpakka daar waghou totdat die skaapwagter kom.   Hulle sal selfs ‘n jakkals wat die skape wil vang, doodmaak met hul skerp toonnaels.   Hulle kan ook  as troeteldiere gebruik word.

 

IMG-20160818-WA0009

Die dominante ooi wat die trop beskerm

 

Die rammetjies en ooitjies word op 6 maande gespeen waarna hulle in aparte kampe gehou word.   Hulle is baie higiëniese diere en mis net op een plek.   Hulle wei bedags in ‘n kampie en weet watter plante is giftig en sal wye draaie daarom loop.

 

IMG-20160818-WA0007

Ooie met hul lammers in die skuur

IMG-20160818-WA0008

 

Alpakkas is verwant aan die kameel- en lamafamilie en kom oorspronklik uit Suid-Amerika.   Hulle weeg tussen 50 – 90 kilogram en kan tot 20 jaar oud word.

 

‘n Aangename en leersame oggend vir een en elkeen!

 

20160818_110638

Besig om te spin

20160818_113456

Karteerder wat die rou vessel in een rigting kam om gespin te word