Sirkel:  Weskus

Tak:  Moorreesburg

Beriggewer:  Martelize Britz

Datum:  17 Augustus 2016

 

Die dames is eerstens vergas met die plaaslike kinderhuis, Huis van Heerde, se 4 -5 jariges, die Vrolike Vlinders, wat vir hul kom sing en individuele versies kom opsê het.

 

Daarna het Hurita Visser wat vroeër die jaar by die Kongres in Port Elizabeth was, kom verslag doen van wat sy daar beleef het.  Eerstens het sy vertel van die leefstylwenke wat sy ontvang het, nl. dat elkeen ‘n netjiese swart broek moet besit en 5 meer tops as broeke moet hê.  Verder moet jy ook ‘n wit broek hê. In jou kas moet daar ‘n cm tussen elke hanger wees en net een item per hanger.  Kant, denim in enige vorm en die sporty look is in hierdie seisoen, asook gewone,wit tekkies.

 

Sy het ook wenke gegee oor kuberveiligheid.  Bv. simkaartkloning:  moenie snags jou selfoon afsit nie, dit is ‘n waarskuwing vir jou.  Jy moet soos ‘n skelm dink.  Moenie persoonlike inligting laat rondlê nie.  Ook met Facebook moet jy versigtig omgaan.

 

Die tesourier van die tak, Annalida van Loggerenberg, het ook verslag kom doen oor die finansies van die tak.

 

Hierna het twee dames van die Departement van Arbeid in Vredenburg die dames kom toespreek.  Eerstens het Abigail Nel, ‘n senior beampte,  gepraat oor die bepalings wat betref die huishulpe.  Sy het gesê dat indien die huishulp  24 uur of meer werk moet daar werkloosheidversekering vir haar/hom uitgeneem word. Dit is 1% van die werkgewer en 1% van die werknemer.  Indien sy haar dienste sonder rede beëindig of dros, kwalifiseer sy nie.  Indien die kontrak beëindig word, kwalifiseer sy wel.  Sy het ‘n siekte – , doods -,  asook ‘n kraamvoordeel.

 

Dit is die werkgewer se verantwoordelikheid om te registreer. Dit sluit ook tuinwerkers in.

 

Verder het Edwina Smit, ‘n inspekteur van die Departement Arbeid ook gepraat.  Jy moet ‘n betalingstrokie aan die werknemer gee, asook verlof.  Vir elke 17 dae kry sy 1 dag verlof. Indien sy langer as ‘n jaar werk, kry sy 21 dae.  Kraamverlof is onbetaald.  Gesinsverlof is 3 dae per jaar.  Indien sy vakansiedae werk, moet sy dubbeld betaal word.

 

Edwina Smit en Abigail Nel

Edwina en Abigail

 

Hierna was Karen van Bosch aan die woord.  Sy is die bestuurder van Huis Moorrees, die kinderhuis op Moorreesburg wat vanjaar 96 jaar oud is.  Daar is 70 kinders,  vanaf babas tot 18 jariges.  Daar is 5 huise met 14 kinders per huis en geen diskriminasie.  Elke kind het ‘n individuele ontwikkelingsplan wat hoop en ‘n toekoms gee.  Hulle fokus op die kind as geheel, al is hulle hulpbronne beperk en vra die betrokkenheid van die gemeenskap.

 

Hurita Visser en Karen van Bosch

Hurita en Karen

 

Dit was ‘n vol, maar ‘n baie interessante oggend.