Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Datum: 16 Augustus 2016

Die werke van ‘n vrou se hande eindig nooit

Annelie Botes

(Die Burger 16 Augustus 2016)

 AB

 

Ná bykans  drie jaar van spartel agter my ou bruin lessenaar, is ‘n volgende boek op pad drukkers toe. Lugkasteel. Dwarsdeur die skrywery het ek hartgrondiglik uitgesien na die einde van Junie 2016, die kontraktuele sperdatum. Om net weer ‘n slag baas te wees oor my eie tyd.

 

In die weke sedertdien het ek niks geskryf nie, behalwe koerantrubrieke. Vry om sonder druk en gejaagdheid dingetjies te doen wat my vreugde bring. Wimbledon-tennis kyk. Linnekas regpak. Vetkoek bak. Vir ure kruisbeen op my bed sit en brei, sonder om my gedagtes by ‘n storielyn vas te pen. Niks ewenaar vir my die terapeutiese waarde van brei nie. Veral as my koppaaie ongebonde kan kronkel. Maar ek is nie gekonfyt met ingewikkelde patrone nie. Daarom hou ek van reguit goed brei. Regs, aweregs, dalk ‘n stukkie ribsteek of gaatjies maak. En daar eindig my breivermoëns.

 

Nou doen ek heelhartig mee aan onse Acqua-VLV-tak se kombersblokkiesprojek. Enigiemand wat wil, brei blokkies van 20cm X 20 cm. Enige wol, kleur en patroon. Dan hekel Magriet en haar span 25 blokkies aaneen tot kombersies. Om te skenk aan Smile, ‘n organisasie wat kinders met haaslippies deurhelp met operasies. En aan Wings &Wishes wat toesien dat kinders wat, vir welke toestand ook al, elders geopereer of behandel moet word per bus of per vliegtuig soontoe vervoer word. Elke kindjie word voorsien van ‘n liefdeskombersie uit ons Acqua-vrouens se breihande.

 

Moenie dink dis goedkoop kombersies saamgeflans uit oorskietwol nie. Uit ‘n bol wol van 100 gram kan jy 4 blokkies brei. ‘n 100 gram-bol kos sowat R24. Dus, R6 per blokkie. Gemaal met 25 blokkies bring dit jou by R150. Dan benodig die hekelspan nóg twee bolle wol om die aaneenlapwerk en ‘n randjie reg rondom te voltooi. En op elke kombersie word ‘n glimlaggesiggie en ‘n hartjie vasgehekel.

 

Wátter gedagtes en herinneringe aan pyn, vreugde, drome en vrese elke vrou in haar blokkies vasbrei, sal net sy weet. Maar dat elke blokkie ‘n swyende geskiedenis van sy eie het, is onbetwisbaar. Só vind elke kombersie ‘n pad na ‘n kind in nood of lyding. Saam met die hitte en vertroosting wat ‘n kombersie vir elke kind bring, bring dit ook die seëninge en liefde en stilgebede van vele gesiglose moeders.

 

Terwyl ek mý blokkies brei, praat ek met kinders wat ek nie ken nie. Met ouers van wie se nood en desperate verwagtinge ek geen idee het nie. Ek tel nie hoeveel die wol kos, of hoeveel ure ek aan die breiery spandeer nie. Terselfdertyd is ek mateloos trots op elke vrou by ons Acqua-VLV dat hulle jaar ná jaar volhou met ‘n liefdesprojek.

 

En ek weet dwarsoor Suid-Afrika, en oral in die wêreld, is duisende vroue wat deel het aan projekte van agapé en medemenslikheid sonder einde. Sonder hulle insette sou die wêreld ‘n armer plek wees.

  20160815_105737