20160720_141817

 

MEV. MARGIE VISAGIE HULDIGING: 20 Julie 2016, 13:40, NG Gemeente De Eike, Kuilsrivier

 

MER het in 1929 die volgende oor President M.T. Steyn geskryf:

 

Nou en dan ontmoet jy in jou lewe ’n besondere mens, man of vrou, by wie jy iets gewaar word. Jy word gewaar dat daar deur hulle ’n besondere krag loop wat iets goeds en heilsaam vir die mens bring. Jy raak onder die indruk daarvan en jy weet somar: “Wat hierdie mens aanraai, moet ek nie versuim om te doen nie, want hy/sy praat met gesag.”

 

Só ’n vrou was mev. Margie Visagie, President en Erepresident van die Vroue-Landbouvereniging van die Kaapprovinsie; ’n leier met besondere talente en eienskappe, wye belangstellings en ’n besondere liefde vir tuinmaak, blomme en ook die rangskik van blomme.

 

As ek oor Margie Visagie begin praat, wil ek ’n klomp dinge gelyk sê. Ek wil praat oor haar uitstekende organisasievermoë; haar absolute toewyding en entoesiasme vir VLVKP; die talle mylpale in haar dienstyd behaal. Ek wil ook praat oor die onuitwisbare spore wat sy in die geskiedenis van VLVKP getrap het; haar insette in die Suid-Afrikaanse Vroue Landbou-unie, die Stellenbosch Blommeklub, die Bestuur van die SA Blommebeoordelaarsunie en die Rade van die Van der Stel-fees en die Tygerberg Kollege.

 

Die heel beste sal wees om by die begin te begin:

 

Margaretha Johanna de Villiers is gebore en getoë in en om die Paarl. Sy moes elke skooldag, saam met die bure se kinders, ver na die Klein-Drakenstein plaasskool toe stap. Hierdie daaglikse staptogte het seer sekerlik bygedra tot haar liefde vir die natuur; dat sy die graagste by hul strandhuis te Keurboomstrand vakansie wou hou; dat sy verkies het om oorsee eerder met ’n “camper” te reis as om in hotelle tuis te gaan; dat sy liewer in haar tuin wou werk as in haar kombuis. Dit is dus nie vreemd dat haar tuin in 1973 die wenner was as die beste landskaptuin vir die “Groen Erfenis Jaar” van VLVKP nie.

 

Dit is met diepe deernis dat ek vir u wil noem dat die klein en fyn dogtertjie, Margie de Villiers, Sub. A. en Sub. B in een jaar voltooi het.

 

Margie de Villiers is later na die Hoër Meisieskool in die Paarl. Na skool het sy aan die Akademie van Dramakuns te Stellenbosch studeer en sy is onmiddellik nadat sy haar kursus voltooi het, aangestel as lektrise aan die Akademie, as leerkrag in Voordrag en ook by haar alma mater, die Laerskool La Rochelle en die Kolleges van die Paarl en Wellington.

 

Sy en Willa Visagie raak op haar 21ste verjaarsdagviering, 31 Augustus 1949, verloof en hulle tree op 10 Oktober 1950 in die Strooidakkerk, in die Paarl, in die huwelik. Hulle het vir 10 jaar in Bellville gewoon. Margie sluit in 1953 by VLV Boston (Bellville-Sentraal) aan en word later een van die stigterslede en ook Voorsitter van VLV Loevenstein.

 

Desember 1960 koop Willa en Margie die plaas, Fraserville, waarna hulle entoesiasties begin boer het, restourasie van al die bestaande plaasgeboue gedoen het, Willa sterk vars water op die plaas aangewys het en hulle toe ’n suksesvolle koejawelboord kon aanlê. Margie het Willa getrou bygestaan met talle boerderybedrywighede, o.a. om: die finansiële boekhouding te behartig, die lone van die werkers te doen en selfs gedurende parstyd met die kaarte in die wingerde te help.

 

Dit het Margie egter nie verhinder om dadelik by VLV Bottelary-Koelenhof aan te sluit nie en sy is na ’n paar jaar as Voorsitter verkies – ’n pos wat sy vir 12 jaar beklee het. Sy was 14 jaar Sirkelpresident van Sirkel Tygerberg waarvan sy 9 jaar daarvan ook die Visepresident van VLVKP was en daarna was sy vir 4 jaar die President van VLVKP.

 

Mev. Margie Visagie was ’n keurige en unieke VLVKP-president.

 

Ek wil graag net 1 VLV-funksie, met mev. Margie Visagie as die gasvrou, met u deel:

 

15 tot 17 Augustus 1989 is die sestigste Jaarkongres van VLVKP in die Parow-Burgersentrum deur Sirkel Tygerberg, met mev. Margie Visagie as die Gasvrou, aangebied. Mev. Margie Visagie is tydens hierdie Feeskongres, of liewer Diamantkongres, verkies as die sewende VLVKP-president.

 

Dit was die eerste Kongres wat ek op die Hoofbestuur gedien het en wel as Sirkelpresident van Sirkel Griekwaland-Wes. Ek praat dus nie op hoorsê nie, ek het dit self beleef. Ek sien nog die swierige perdekoetse van Willa Visagie met die trotse perde wat mevv. Glen Uys, Erepresident van VLVKP; Margie Visagie, toe die VLVKP-visepresident, Sybil le Roux, die VLVKP-president en mev. Bettie Meiring, destydse Administrateursvrou van die Kaapprovinsie by die venue kom aflaai het. Die ander eregaste is met veteraanmotors na die venue vervoer.

 

Ek sien ook die 6 pragtige en reuse geraamde vergrotings van die foto’s van die Stigterspresident van VLVKP, mev. Jossie Ackermann, en haar opvolgers: mevv. JE Conradie, Wynnie Schumann, Elizabeth Vlok, Glen Uys en Sybil Le Roux, die sesde VLVKP-president op uitstalling tydens Kongres. Hierdie vergrotings plus die vergroting van mev. Margie Visagie wat later bygekom het en die vergrotings van die presidente tot en met die 10de President hang vandag in die Jossie Ackermann-komiteekamer van Jubileumhuis, die Kantoor van VLV-Kaapland, te Dorpstraat 126, Stellenbosch.

 

Ek onthou ook die trompoppies, die boomplantings deur mevv. Bettie Meiring, Sybil le Roux en Margie Visagie met die meisiepelaton van Hoërskool J.J. du Preez op aandag in die agtergrond  voor die aanvang van die Kongres; die pragtige feesborde met die vaandels van die 19 Sirkels daarop, ontwerp deur mev. Caro Ekermans, wat as feesartikel te koop aangebied is; die nuwe naamborde vir gebruik ook by toekomstige Kongresse; die flambojante sestigste verjaarsdagkoek vir VLVKP gebak en versier deur Izak van Heerden van Anchor-gis; die pragtige blommerangskikkings en so kan ek aanhou en aanhou  – alles, absoluut alles –  was uit die boonste rakke en alles is inisieer, organiseer en gedoen onder leiding van die gasvrou, mev. Margie Visagie. Ek kan ook onthou hoe vreeslik siek sy was tydens daardie Kongres, maar nooit het sy dit vir die kongresgangers laat blyk of ’n voet verkeerd gesit nie en uitgehou en deurgedruk omdat sy die gasvrou was.

 

Ek wil afsluit, maar om ‘n huldeblyk te lewer vra dat ’n mens ook oor die prestasies van die besondere persoon moet praat.

 

Ek gaan slegs vir u ’n paar noem. Margie Visagie het:

 

  • met haar sorgsame hantering die woord, “blank”, baie suksesvol met ’n tweederde meerderheid uit die VLVKP-grondwet gehaal het en gevolglik die Grondwet laat herdruk

 

  • die VLVKP-Beleidsboek hersien en laat herdruk

 

  • die jaarlikse Vraelyste vereenvoudig om die invul daarvan deur die Voorsitters en Sekretarisse van die Takke te vergemaklik

 

  • die jaarlikse Kongresopening na die eerste Kongresmiddag verskuif met ’n sosiale verkeer dieselfde aand

 

  • gesorg dat Hoofbestuur en gaste voortaan saam met afgevaardigdes hul verversings geniet
  • ’n VLVK-vraelys in die Februarie 1991 Huis en Haard geplaas om daardeur ’n kritiese opname te maak van die benadering tot lidmaatskap en die aktiwiteite van die VLV en dit is deur duisende lede beantwoord

 

  • saam met mev. Sybil Le Roux, namens VLVKP; mev. Bettie Meiring, Administrateursvrou, en ’n paar ministersvroue die operasionele gebied as gaste van die SA Weermag met ’n flossie besoek

 

  • die suksesvolle Boervrou van die Jaar-kompetisie in samewerking met die destydse Wes-Kaapse Landbou-unie en die Kaapse Pomologiese Vereniging aangebied waarvan mev. Annatjie Oosthuizen, wat later die negende VLVK-president geword het, die wenner was.

 

  • VLVKP se deelname in die Volkstapisserie-kompetisie in samewerking met die SA Wolraad uiters suksesvol gereël en organiseer en die uitstalling en prysuitdeling daarvan in Braamfontein bygewoon.

 

Ek sluit af:

 

Mev. Margie Visagie het in haar termyn alles versinnebeeld wat ons VLV-lede van ’n VLVK-president verwag. Haar innemende, vriendelike, sprankelende geaardheid en haar laggie sal ons altyd bybly. Sy was ’n ware dame, ’n vriendin, ’n eggenoot, ’n moeder, ’n ouma, ’n VLV-lid, ’n  VLV-leier met visie, ’n mentor, ’n rolmodel, ’n verfynde en waardige voorloper wat ons onvoorwaardelik kon volg.

 

Met haar laaste optrede moedig sy lede aan om deel te word van die VLV-gesin en sê verder en ek haal haar eie woorde aan: “Daar kan slegs ’n gesonde toekoms wees as elkeen van u betrokke raak, die hand uitsteek en u deel bydra tot die toekoms.” Sy het verder gesê: “VLV het my laat wegbeweeg van myself; ek het geleer om te dien; om te vergewe en uit te styg bo die negatiewe. Ek het geleer om op hoogtes te loop, beteken dat jy moet kan afbuk om voete te was.”

 

Met hierdie laaste woorde van mev. Margie Visagie lig ek vanmiddag my hoed hoog en salueer ek  haar uit bewondering, waardering, respek en liefde – ’n VLV-leier van formaat en ’n kosbare VLV-vriendin.

 

Ek dank u vir die groot eer en voorreg my beskore om aan haar wens te voldoen deur haar huldiging te doen!

 

Erika Lubbe

Vorige VLVK-president

2005 – 2014