Sirkel: Tygerberg
Beriggewer: Antoinette le Roux
Datum: 18 Julie 2016
Caro Ekermans, President van Sirkel Tygerberg, het vanaf 2011 die sirkel met onderskeiding gelei. Sy het sedert 2014 ook opgetree as VLVK-Sameroeper vir Kunste en Handvlyt. Ongelukkig moes sy om gesondheidsredes die tuig neerlê.
Ita van der Merwe (links) en Caro Ekermans (regs)
Ita van der Merwe is eenparig verkies as President van Sirkel Tygerberg om Caro se termyn te voltooi. Ons weet dat sy die taak met ywer sal aanpak en ‘n sukses daarvan sal maak.
Die huldeblyk wat voorgelees is by die geleentheid:
Ken jy dié vrou?
Sy het vyf talente van die Here ontvang om mee te woeker:
Sy is ‘n fyn-opgevoede mens, intelligent en veelsydig.
Sy het sterk leierseienskappe met ‘n uitstekende vermoë om te organiseer.
Sy is lojaal, familievas, en wel ter tale – selfs ook in Spaans om met haar geliefde skoonseun te kan kommunikeer.
Haar veelvuldige kreatiewe talente het sy baie goed ingespan deur onder andere houtsneewerk, weefwerk en die mooiste agtergrondpanele vir die verhoog, dekor, illustrasies, ens. te skep.
Die vrou wat ons die beste ken, is die een wat, as bestuurslid van Stellenberg en ontwerper van hul takwapen, die VLV vir die laaste byna 40 jaar met passie dien en so met haar talente waarde toevoeg, veral vir Stellenberg en Sirkel Tygerberg. Sy was ‘n staatmaker en geen uitdaging was ooit te groot vir haar nie. Sy kon dag en nag werk om haar doel te bereik.
Haar leuse is: “Die moeilike doen ons nou, die onmoontlike netnou.”
As beoordelaar moedig sy almal aan om deel te neem aan kompetisies om sodoende hul vaardighede te verbeter. Sy is self ‘n bedrewe bakster en is bekend vir die keurige produkte wat sy vir die Tuisbedryf lewer. Haar vingers vleg al koeksisters soos ‘n refleks!
As Provinsiale Sameroeper leef sy haar passie vir Kunste en Handvlyt uit en het sy ‘n beduidende inspraak by Hoofkantoor.
As Sirkelpresident het sy elke vergadering met gebed geopen en die Vader om leiding gevra oor besluite wat geneem moes word.
Ons sal haar altyd onthou as die een wat met haar vyf talente gewoeker het en nog vyf talente kon wys omdat sy deur haar passie en toewyding aan VLV, ander gehelp het om ook hul potensiaal te verwesenlik. Lees Matt.25:21.
Die een wat die vyf goue talente gekry het, bring toe nog vyf talente. “ Die eienaar sê toe vir hom: “Dit is baie mooi. Jy het my goed gedien. Met die bietjie wat ek jou gegee het, was jy betroubaar. Nou sal ek jou baie groter verantwoordelikheid laat dra. Kom in en ek sal jou vreugde gee.”
Hierdie vrou is Caro Ekermans.
Dankie Antoinette. Dis die Caro wat ons ken. So eer haar.
Wenda Preuss
VLV Goodwood