Maak jy broodknippies bymekaar? Indien nie, is nou ‘n goeie tyd om te begin.

 

Sirkel Tygerberg het onlangs ‘n oorkonde aan Mary Honeybun, die stigter en organiseerder van Bread Tags for Wheelchairs, oorhandig. Sirkel Tygerberg maak reeds geruime tyd broodknippies bymekaar om Mary van hulp te wees met die projek.

 

Caro Ekermans versoek dat VLVK-lede wat Kongres 2016 gaan bywoon, Sirkel Tygerberg (en dus Mary met Bread Tags for Wheelchairs) van hulp sal wees met hierdie uiters verdienstelike projek. Bring die broodknippies saam na Kongres en Tygerberg se Sirkelsekretaris, Lettie van Wyk, sal dit ontvang en saam met haar terugneem Kaap toe.

 

Sien onderstaande berig wat op 3 Mei 2016 op ons WW verskyn het.

Knippies vir wiele, 03/05/16

Mary Honeybun is die stigter en organiseerder van “Bread Tags for Wheelchairs”.

Mary, wat reeds in haar tagtigs is, woon in Noordhoek en het in 2008,  toe sy haar heup ernstig beseer het, begin om broodknippies bymekaar te maak. Sy het nou reeds 602 rolstoele en ander hulpmiddels aan persone met gebreke, wat nie ‘n rolstoel kan bekostig nie, verskaf. Sy het ook looprame verskaf aan kinders wat serebraal verlam is, en verswakte bejaardes. 

Hoekom juis broodknippies? 

Broodknippies word gemaak van ‘n hoëdigtheid polistireen met ‘n goeie markwaarde.  Dit kan omskep word in produkte soos 6-pak-plantbakkies, fotorame, spatlyste, kroonlyste , klerehangers, ens. Hierdie klein stukkies plastiek word uit die omgewing verwyder en in iets nuttigs omskep. 

Mary en haar helpers sorteer en weeg die knippies daagliks en plaas dit in 1 kg pakkies waarna dit in swart sakke van 10 kg elk verpak word. Sy sorteer en versend meer as 400 kg broodknippies elke 6 weke. Dit verteenwoordig sowat 20 swart vullissakke vol. Sy verwerk sowat 8 ton knippies per jaar. Ongeveer 600 000 knippies koop ‘n rolstoel. 

En so wil sy voortgaan solank sy die liggaamskrag daarvoor het.