Sirkel: SWD

Tak: Diepkloof

Beriggewer: Anita Fourie

Datum:  27 Junie 2016

 

Gina Theron, Voorsitter van Diepkloof-tak, het dit goed gedink om die senior lede van die tak te bederf met ʼn spog oggendtee. Die eer van ‘senior lid’ val Diepkloof-lede te beurt sodra die ouderdom van 80 jaar bereik word.

 

Die tee is bygewoon deur die volgende lede:

Erelede: mev. Helene Robertson met haar gade en mev. Paulene Robertson.

Lede: mevv. Annatjie Krause en  Maxie Barnard met hul gades en mev. Ella van Jaarsveld.

Oudlede: mev Ena Robertson, Minette Robertson. Minette is ʼn oudlid, maar het nog nie die 80 jaar merk bereik nie.

 

Lede het aangesit by ʼn pragtig gedekte tafel en heerlike eetgoed is bedien. Die bejaardes het vooraf elk ʼn opsomming van hul lewensgeskiedenis gegee, wat by die geleentheid deur lede van die tak voorgelees is. Mnr. Neal Robertson, vroeër ʼn jarelange voorsitter van die Boerevereniging, het  staaltjies vertel van weleer se vergaderings, toe VLV-vergaderings in die aand gehou was en saam met die Boerevereniging se vergaderings geval het. Dit was ʼn kuieraand vir die hele gesin en  hy voel dit het die gemeenskap bymekaar gebring.

 

Elkeen van die bejaardes  was gevra om een van hul  troufoto’s saam te bring, wat uitgestal is .

 

Notule

‘n Notule wat uit 1934 dateer

 

ʼn Uitstalling van die ou notules van die tak is ook gehou. Marietjie Terblanche het tydens die tee  ʼn paar van die ou notules voorgelees. Sy het ook ʼn komiese voorlesing gedoen wat almal laat skater het van die lag. Laerskool van der Hoven het onder leiding van hul skoolhoof, Anita Oosthuizen, ʼn skitterende opvoering gelewer.

 

Daar is  tee gedrink en lede het heerlik saamgekuier. Bejaardes het elk ‘n geskenkie gekry om huis toe te neem.

 

lede

Gina Theron, Voorsitter, spreek bejaardes toe

 

20160620_101326

Diepkloof-lede bo 80 jaar en sommige jarelange lede