Sirkel:  Kaapstad

Tak: Strand

Portefeulje: Openbare Sake

Beriggewer:  Erna de Waal

Datum:  21 Junie 2016

 

Strand-tak se maandelikse vergadering was weereens ‘n feestelike geleentheid.  Ons was bevoorreg om dr. Jurie Joubert, ‘n onafhanklike onderwyskonsultant en opvoedkundige raadgewer, as spreker te verwelkom.

 

Hy is ‘n kenner van tegnologie in die klaskamer en effektiewe onderrig asook ‘n ervare studieleier van nagraadse studente . Hy is betrokke by talle navorsingsprojekte in die wêreld. In sy praatjie het hy die regte van vroue aangespreek en ‘n belangrike vraag gevra:  Waarom het ons in Suid-Afrika nog nie ‘n Emily Hobhouse of Margaret Thatcher opgelewer nie?  Waar is die Afrikaanse vrou in ons land se ekonomiese leiersrolle?  Vroue is tog die opvoeders en loop vóór – al sedert die vroegste tye wat ook in die Bybel opgeteken is. In Suid-Afrika het ons ‘n patriargale invloed en daar word dikwels teen vroue gediskrimineer in die samelewing, kerk, organisasies en besighede. Té min vroue word in die hoogste poste in besighede, onderwys en in die publieke domein aangestel ten spyte van die feit dat daar genoeg gekwalifiseerde vroue is.

 

Vroue maak ‘n groot persentasie van ons land se werkmag uit en kry nie die lof en erkenning wat hulle verdien nie. Vroue se posisie in die werkplek het min verbeter gedurende die afgelope 20 jaar ten spyte daarvan dat talle hulself tot op ‘n hoë vlak bekwaam het.

 

IMG_0987

LNR SJB Keyser, dr. Jurie du Toit. Leta du Preez (Voorsitter) en Jossie Visser

 

Waar is die Suid-Afrikaanse vroue in leiersrolle? Waar is die Afrikaanssprekende vrou in leiersrolle? Die rykste tien vroue in SA, wat nie hul rykdom deur hul ouers en/of eggenotes verkry het nie, is nie Afrikaans nie.

 

Ma’s en oumas is die opvoeders tuis en lewer belangrike bydraes in verskeie vroue- en ander organisasies. Vroue speel die leidende rol in die onderwys, tog beklee hulle nie genoeg top poste nie. Vroue wil egter nie in poste aangestel word omdat die wet instansies verplig om ‘n sekere aantal vroue in diens te neem nie. Vroue wil op gelyke voet met mans meeding want hulle kán. Vroue wil nie outomaties die teeskinker wees nie. Laat die juniors in ‘n organisasie dit doen.

 

Vroue se posisie gaan nie vanself verbeter nie – hulle moet dit sélf laat gebeur. Vroue láát mos dinge gebeur!

 

Edie Henn, pianis en koorafrigter van formaat, en haar sanggroep het luister aan die dag verleen met sang uit die boonste rakke.

IMG_0982

Edie Henn en haar sanggroep van Gordonsbaai