Sirkel: NOK

Tak: Jamestown

Studierigting: Kunste & Handvlyt, Landbou& Tuinbou, Opvoeding & Kultuur

Aanbieder: Hilda v/d Walt &  Antoinette van Pletzen

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 8 Junie  2016

 

Lede is gemaan om hul veiligheid op te skerp. Maak bv. seker alle deure is gesluit voordat jy gaan slaap. Daar is besoek afgelê by Egbert & Contessa Joubert vir besigtiging van haar borduurmasjienbesigheid en sy Internet- en tweerigtingradiobesigheid.

 

DSCN3041

Egbert & Contessa Joubert

 

Antoinette van Pletzen het vertel van die belangrike rol wat ons omgewing, spesifiek Burgersdorp, gespeel het in die erkenning van Afrikaans. Die Patriot-koerantjie het in Okt. 1879 verwys na die Albertsche Boeren Beschermingsvereniging (wat in Aug.1878 naby Burgersdorp deur Daantjie v/d Heever gestig is) as een van die 3 bewegings vir die bevordering van Afrikaans! Daantjie se dogter is as model gebruik vir die eerste taalmonument wat in Jan. 1893 in Burgersdorp onthul is. In die Anglo-Boereoorlog is die monument egter erg beskadig en die vrouebeeld verwyder. Op aandrang van die gemeenskap het die Britse regering ‘n replika geskenk wat in 1907 opgerig is. Die oorspronklike beeld (sonder kop) is in 1939 naby King William’s Town gevind, en in Okt. 1957 weer op Burgersdorp opgerig. Vandag staan daar dus steeds 2 vrouebeelde by die monument!

 

Sy vertel ook waar die konsep van ‘n voëlverskrikker vandaan kom. Aanvanklik is 2 stukke hout in die vorm van ‘n kruis teen mekaar getimmer om as voëlverskrikker te dien, en later is klere omgehang om bose geeste met die mensreuk weg te hou. Sy deel pamflette uit oor museums in Bloemfontein en oor die belangrikheid van rooibostee.

 

Sy lees ‘n vertelling voor van ‘n SA-meisie wat in Nederland gaan au pair het, en nooi almal uit na ‘n skaapkopaand in Bloemfontein! Sy sluit af deur ‘n CD met voëlgeluide te speel en foto’s v/d betrokke voëls te wys. Daarna behandel sy kortliks die voël v/d jaar – die Versamelvoël.

 

Daar was verskeie uitstallings, o.a. oudhede wat deur elkeen saamgebring moes word, gehekelde komberse, boeke (bv. die ou en die nuwe FAK-sangbundel), en ‘n skaapvel wat aaneen behou is om as saaisak gebruik te word.

 

DSCN3047

Uitstalling van oudhede

 

Marlene Lategan het lede gehelp met die maak van ‘n kleinerige papierblom met behulp van 6 papiervierkante; en Hilda v/d Walt het gewys hoe om proteas uit slapbandboeke te vou.

 

DSCN3051

Hilda v/d Walt demonstreer hoe om ‘n papierprotea te vou, terwyl die volgende saam konsentreer: van links Drini van Pletzen, Lucia Lieberum, Marlene Lategan, Hester Foster, Hilda & Lettie Coetzee