Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 8 Junie 2016

 

Juniemaand by Acqua is Opvoeding en Kultuur se beurt. En daar is op ons eie kultuur gefokus. Afrikaner-kultuur.

 

Die kultuur van ‘n volk kan in legio segmente opgebreek word.  Die manier waarop jy groet, sêgoed, musieksmaak, voorkeure, kos, literatuur, ens. is alles tekenend van ‘n volk se kultuur. Die vraag is dan, wat is kenmerkend van die Afrikaner-kultuur? Dit is alles wat eie en uniek  is aan die Afrikaner. Alles wat ons onderskei van ander volke. Soos ons taal. Toneelstukke, flieks, skeppende kuns met ‘n eie en unieke Afrikaner-stempel en ons Protestantse godsdiensbeoefening onderskei ons kultuur van ander volke s’n.

 

Die Afrikanerman groet  met die hand en “ouer” mense word as oom en tannie aangespreek. Daar word koffie en beskuit rondom die kombuistafel genuttig. Boeremusiek, biltong, droëwors, melktert, bobotie, gemmerbier en koeksisters is eie aan die Afrikaner-kultuur. Die Afrikaner ken van volkspele en die Voortrekkers. Die Afrikaner ken ook van Saterdagmiddag se rugby en ‘n vleisie op die kole.

 

Toneel speel ‘n belangrike rol in die kultuurerfenis van enige volk. Die Afrikaner-kultuur is geen uitsondering nie. Afrikaanse toneel het gelukkig lank reeds sy lewenskragtigheid bewys. Danksy die landswye kunstefeeste word daar ’n konstante stroom nuwe toneelwerke geskep en dit doen baie vir die voortdurende groei van toneel as uitvoerende kuns.

 

PEAAT is die oudste Afrikaanse amateur toneelvereniging in die land, gestig in 1951 om ‘n verhoog te skep vir amateur toneel in Afrikaans. Acqua is gelukkig om sommer twee PEAAT-bestuurslede op die ledelys te hê. Wie dan beter om te vertel hoe ‘n toneelstuk op die planke gebring word, as een van dié dames. Emercia de Lange het agtergrond gegee oor PEAAT . Sy het die proses van waar ‘n keuse van toneelstuk gemaak word, opvoerregte bekom word, oudisies gehou word tot kostuumkeuse, stelinkleding, rekwisiete, klankbaan en beligtingsontwerp toegelig.

 

Aqcua-lede sal voortaan met nuwe respek vir regisseurs, akteurs en aktrises in die gehoor van enige uitvoerende kunsstuk sit.

 

Toe die woord kultuur in Bestuursvergadering ter sprake kom, was die woord koeksister kort op sy hakke. Die nederige ou koesêratjie word hoeka in Juniemaand met sy eie dag gevier.  Ook niks minder as reg nie, want daar’s darem baie kerke en skole wat met die hulp van koeksisters gebou is. Lede het elkeen ‘n koeksister as funksie-gunsie ontvang.

 

Die lede is versoek om soos KOEKsusters aan te trek en dit was ‘n resep vir groot pret. Die vergadering het darem meer om die lyf gehad as net stroop, maar die woord “koeksuster” het nuwe betekenis gekry. Lede het hul mees konserwatiewe uitrustings doer onder uit hul klerekaste opgediep en daar was heelparty onderrokke en tjalies te bespeur.

 

Minky

mms_img-2079667787

 

Die aantal kere wat die woord “koek” in Afrikaans gebruik word, het ook ter sprake gekom.  Behalwe vir koeksister is daar ook koekemakranka, roosterkoek, heuningkoek, koeksoda, koekstruif, koekskoppie, koekoekklok, koekeloer, koekepan, koekheuning, koeksaad en koekerig, om net ‘n paar te noem.

 

Dit mog nou wel na ‘n koekerige vergadering gelyk het, maar die aand was net so lekker soos ‘n stroperige koeksister!