Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 8 Junie 2016

 

Op 8 Junie 2016 vergader die Aberdeen-VLV in die klubsaal op die dorp.  Lea van der Vyver open met die lees van ‘n stukkie oor die waarde van ons dae.  Wat is die dinge wat regtig saak maak in die lewe?  Aan die einde van ons lewens sal ons welvaart, bekendheid, besittings, drome en herkoms irrelevant word en verdwyn.  Wat egter sal saak maak, is wat jou karakter was en hoeveel jy vir ander mense beteken het terwyl jy geleef het.  ‘n Lewe wat saak maak is ‘n keuse en gebeur nie per ongeluk nie.  Die Here vra ook in Miga 6:8 dat ons reg sal laat geskied, liefde en trou sal bewys en bedagsaam sal lewe.  Dit is wanneer ons met krisisse gekonfronteer word, dat ons dieper begin dink oor die sin van die lewe en wat werklik saak maak.

 

Jadré Lategan, Sameroeper Opvoeding en Kultuur, stel eerstens vir Caty Victor aan die woord.  Sy deel haar ervaring en hantering van outisme in die omsien na haar outistiese kleinseun, Timothy.  Sy doen ‘n beroep dat jong meisies gewaarsku moet word teen die gebruik van verkeerde medikasie tydens swangerskap, aangesien haar kleinseun se gebreke as gevolg daarvan is.  Sy vertel dat hierdie kinders ‘n geweldige behoefte aan liefde en aanvaarding van veral hulle ouers het.  Alhoewel hulle vir die wêreld “mal” voorkom, is hierdie kinders hoogs intelligent, maar hulle kan nie te veel mense om hulle hanteer nie.  Verder is haar kleinseun baie perfeksionisties, netjies en ook uiters kunstig en het stimulasie nodig, anders raak hy depressief.  Hy bly tans by sy pa en woon bedags ‘n klein skool by wat na leerders met soortgelyke behoeftes omsien.  Die personeel is opgelei om hierdie kinders te hanteer en hy is baie gelukkig daar.

 

Jadré Lategan stel daarna vir ds. Abé Beyers aan die woord om krisishantering te bespreek.  Ds. Abé verduidelik dat ‘n krisis in mens se lewe tot gevolg het dat jou basiese veronderstellings oor die lewe verpletter word.  Dit voel of jou wêreld letterlik uitmekaar val.  Alle mense gaan deur sekere fases vandat die krisis gebeur totdat jy weer genees is en kan voortgaan met die lewe.  Deur bewus te wees van die fases kan mens jouself en ander help om suksesvol te beweeg totdat genesing plaasvind.  Daar word klem gelê op die feit dat mens nie ‘n krisis kan ignoreer en aangaan asof niks gebeur het nie, aangesien dit trauma binne-in jou veroorsaak wat een of ander tyd tot uiting sal kom.  Dit is belangrik om die gebeurtenis te erken en daaroor te praat tot by die kern van die trauma.  In die rouproses is dit ook baie belangrik om die werklikheid te aanvaar en dan wel die pyn, verlies en hartseer te beleef sodat daar later aangepas kan word by die nuwe lewe.  Daar is sekere hulpmiddels wat help met genesing, soos om die plek van drama weer op te soek en die storie vir ander te vertel.  ‘n Mens weet dat jy genees is van die gevolge van ‘n krisis wanneer die snellers herinneringe word en jy daaroor kan praat sonder om die intense angs en emosie te beleef.

 

Die gelukkige trekking van die dag word deur Suzanne Lategan gewen.  Die vergadering word afgesluit met koffie en verversings wat Suzanne Lategan gebak het.  Lede bespreek die leersame inligting van die oggend en deel persoonlike belewenisse met mekaar.

 

a1

LNR Jadré Lategan (Sameroeper Opvoeding en Kultuur) saam met die sprekers van die dag, ds. Abé Beyers en Caty Victor