Sirkel: Paarl

Tak: Slot-van-die-Paarl

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 7 Junie 2016

 

Marthie Hauptfleisch het ons van ons voete “afgeslaan” met haar praatjie oor voetsorg.

 

Jou voete dra jou van punt A tot punt B, maak nie saak wie jy is nie. As jy voete het, kan jy gaan waar jy wil gaan. Daar’s 56 tendons wat 23 beentjies bymekaar hou in jou voet. Die voet het verskillende lae bv ‘n vetlagie en jou vel beskerm jou. Die Here het jou perfek geskape en ons moet ons liggame oppas. Abnormale verspreiding (hoë skoene) bring probleme.

 

20160607_115858 - Copy

Marthie Hauptfleisch, Milly Myburgh (Saamroeper), Thea Basson en Annalise Loubser

 

Die volgende wenke het op pittige en humoristiese wyse oor haar lippe gerol:

*Plaas jou skoene gereeld in die son vir ‘n ruk, want sodoende word dit gesteriliseer. In Kanada word dit in die vrieskas gegooi! (sy het ruk daar gewoon) Dit is ook goed as jy meer as een paar skoene het en dit gereeld afwissel.

*Steriliseer jou sokkies en kouse deur dit in die vrieskas te sit; goed teen voetskimmel. Borsels, naelknippers, tafels, ens. kan in ‘n oplossing van 1 L water + 1 eetl asyn + 1 eetl Jik gesteriliseer word.

*Vir moeë voete – sit met voete omhoog op bankie 1 x elke uur. Veral in ‘n werk waar jy lank staan en spatare sal kry. ‘n Diabeet moet omtrent 10 000 treë per dag loop.

*Bietjie Engelse sout in jou voetbad help met bloedsomloop.

*Vervang jou skoene as dit nie meer reg is nie. ‘n Hak van ‘n skoen moet doen wat ‘n hak moet doen. Binnesole help ook.

*Party soorte skoene kan jy nie hou en hou en later uithaal nie (dis nou daai ekstra paar skoene), want miskien het dit in die tussentyd verkrummel; skoene het sonlig nodig.

*Gebruik ‘n voetroom wat 25% Uria bevat bv. Eulactol. Alle voete is nie dieselfde nie; room kan vir die een help en nie vir die ander nie, want daar kan ander gesondheidsprobleme wees.

*Dit is goed om gereeld ‘n biokinetikus te besoek. Hy help jou met probleme sodat dit vorentoe beter kan gaan.

*Gebruik net jou eie naellak, want jy moet oppas vir ander se siektes.

*Vermy dit om te rook; dit affekteer jou are.

*Sorg dat jou naels kort is, veral as die tone begin “optrek”.

 

Verder raak sy wondsorg ook aan – Gebruik Saline wat die naaste aan jou liggaamsvog is. Oppas vir boererate as jy ander probleme het bv. trombose. Moenie te lank wag voor jy hulp soek nie.

 

Bokka Wagenaar maan ons tot verantwoordelike burgerskap nl.

*Op 3 Augustus is die stemdag. Gaan stem en maak ‘n verskil.

*Hou aan om water en elektrisiteit te spaar.

*Verbruikersake: Lees die produkte se etikette en koop SA-produkte. Ons boere word beïnvloed en kry swaar a.g.v. invoere bv. Pot O’Gold kom uit China. Koop by ‘n plek wat ‘n kaartmasjien het.

*Noodnr. vir N1, N2 en R300 is 021 9461649. Stoor dit op jou foon om enige tyd inligting te kry van die verkeer of ook vir hulp langs die pad.

 

Soos altyd het almal teenwoordig se kennis verbreed deur die VLV-vergadering by te woon!