Sirkel: Paarl

Tak: Slot-van-die-Paarl

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 3 Junie 2016

 

 

Wat ‘n heerlikheid om saam met 80 ander  “jolly-bobbejane” (aldus ons spreker) in die laatherfs van 2016 te verkeer! Elias P Nel, met al sy kwinkslae, was die gasspreker.

 

Sy aanhalings van Hans du Plessis se Griekwapsalms en Korinthiërs 13 oor die liefde het groot byval gevind. En dan neem oom Galtros jou so lekker saam op sy “bicycle” dorp toe dat dit kompleet rêrig is dat jy agter hom sit met jou kopdoek wat doer in die wind staan en waai!

 

Uit Korinthiërs 13 moet ons onthou dat die liefde nie dikmond loop nie! Elias het gesorg dat ons monde díe aand met ‘n glimlag versier was.

 

Nog ‘n lewensles uit sy mond is: die tannie luister op die regte plek na die regte inligting, maar vertel op die verkeerde tyd die verkeerde inligting! Kan ons nie  elkeen getuig van hoe mens soms jou mond verkeerd inspan nie?!

 

Daar’s nog lank gekuier en gesels dat die dak lig rondom die soppotte (biltong, ertjie en botterskorsie), broodtafel, sjokolade en koffie na die tyd. Wanneer maak ons weer so????

 

Intussen tot ons saamstaan-groep-mense weer saam gesellig verkeer, sal ons bly in die “skuiltes van die Jirre”, soos die woorde uit die Griekwapsalm ons leer.

 

IMG_3201

Aletta Keyser, Bokka Wagenaar, Frouwien du Toit (Takvoorsitter) saam met Elias P Nel en sy vrou