Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 3 Junie 2016

 

Dit het vandag só maklik geword om vinnig by ‘n winkel in te glip om ‘n geskenk vir ‘n vriendin se verjaardag te koop.  Wie van ons maak regtig nog tyd om ‘n handgemaakte geskenkie te maak?  Die lewe is net eenvoudig te vol en gejaagd….of is dit?

 

By die VLV word daar jaarliks ‘n kompetisielys saamgestel, wat die meeste kunsvorme en smake kan akkommodeer.  Hierdeur leer ‘n lid nuwe uitdagings en tegnieke, waarvoor sy nooit andersins tyd sou gemaak het nie.  En wat dit só wonderlik maak, is die inspirasie wat by mekaar gekry word, deur elkeen se idees en vermoëns te sien.

 

Tydens Hantam-VLV se Kunste & Handvlytvergadering, het Lourine Nel die inspirasiekrane oopgedraai!  Sy het ‘n brief aan ‘n familielid geskryf oor ‘n porseleinhondjie wat sy in haar ouma se werksmandjie op die solder gevind het.  ‘Vreesloos’ se pootjie is nou weliswaar afgebreek, maar die dierbare dingetjie, het vir ouma groot sentimentele waarde gehad.

 

Die kompetisie-artikel vir Blommekuns vir vanjaar, is blom-reukballe, oftewel “Kissing Balls”.  Daar is baie spesifikasies rondom die artikel.  Om onnodige foute en onkoste daaraan te vermy, het Nicoléne Smit ‘n demonstrasie oor die maak van reukballe gedoen.  Sy noem ten eerste dat dit baie belangrik is om te weet, dat die materiaal waaruit die balle gemaak moet word, gedroog moet wees.  Dit mag nie gekleur word nie, maar mag wel met essensiële olies gegeur word.  Verder moet dit op ‘n polistireenbal van ‘n spesifieke grootte geplak of gesteek word.  Haar ondervinding was, dat veral gedroogde stingels glad nie suksesvol gesteek kan word in die polistireen nie.  Sy stel voor dat ‘n gompistool gebruik kan word.  Dan is dit ook raadsaam om ‘n laag goiing op die polistireen vas te plak, om die wit agtergrond te kamoefleer, maar ook om die vassit van die blommateriaal te vergemaklik.

 

Om dit prakties te maak, het Nicoléne gedemonstreer hoe ‘n reukbal met veral Laventel- en Bougainvilleablommetjies gemaak kan word.  Die moontlikhede is egter legio en verskillende teksture en geure van verskillende plante kan baie suksesvol gebruik word.

 

Volgens Maya Angelou, kan jy nooit kreatiwiteit opgebruik nie.  “Hoe meer jy dit gebruik, hoe meer kry jy daarvan.”   Die vergadering het beslis baie kreatiewe inspirasie onder die lede aangewakker!

 

IMG_9310

Tydens Hantam VLV se Kunste & Handvlytvergadering, het lede inspirasie gekry oor die maak van reukballe.  Dit is ‘n lieflike geskenk vir ‘n vriendin of vir jouself!  Op die foto is René Visagie (hulp vir die vergadering), Lourine Nel (Saamroeper van Hantam-VLV) en Nicoléne Smit (spreker wat die balle gedemonstreer het)

 

IMG_9305

Nicoléne Smit demonstreer hoe om ‘n Kissing Ball te maak.  René Visagie en Lourine Nel luister aandagtig na al haar nuttige wenke en raad.