Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Mette Kromhout

Datum: 25 Mei 2016

 

Tydens Hannelize van Heerden se Opvoedkundeprogram het Renée Swanepoel gewaarsku dat aftrede in ‘n nagmerrie kan ontaard indien daar nie vroegtydig finansiële voorsiening gemaak word nie.

 

DSC03853 (2)

Aanbieders van die program:  Mette Kromhout, Renee Swanepoel en Hannelize van Heerden

 

Dit is belangrik om emosioneel op aftrede voorbereid te wees en om jou dae na aftrede sinvol te beplan.  In die volgende lewensfase kan byvoorbeeld meer tyd aan gemeenskapswerk of stokperdjies geskenk word.

 

Aangesien baie mense ongelukkig versuim om vanaf hulle eerste werksdag reeds vir hulle aftrede te spaar,  beland baie afgetredenes in finansiële moeilikheid.  Daar moet nie gewag word totdat bekostig kan word om ‘n groot bedrag per maand te spaar nie.  Dit is beter om selfs net R100 van die eerste salaris af te spaar en dit dan geleidelik te vermeerder.

 

Aldus ‘n Forum 24-peiling onder afgetrede Rapportlesers is bevind dat 44% afgetredenes se bruto inkomste per maand minder as R16 000 is,  terwyl slegs 19% op ‘n inkomste van R30 000 per maand kan reken.  Van die deelnemers aan die peiling lewe 41%  sonder gebrek,  maar kan geen luukses bekostig nie.  Nie minder as 24% sukkel om kop bo water te hou, terwyl van hulle van aalmoese lewe.  Slegs 4% afgetredenes reken dat hulle welaf is.  Van die afgetrede Rapportlesers wens 53% dat hulle beter voorsiening vir hulle oudag gemaak het.  Dan is daar natuurlik baie afgetredenes wat slegs van ‘n staatspensioen afhanklik is en dit nie kan bekostig om elke Sondag ‘n Rapport te koop nie.  Hulle was dus nie eens deel van hierdie opname nie.  Baie van hierdie mense word uiteindelik in plattelandse ouetehuise versorg,  waar hulle wel ‘n heenkome, maar nie noodwendig ‘n menswaardige bestaan  nie,  vind.

 

Dit is vandag algemeen om van loopbaan te verander en Swanepoel waarsku dat die pensioengeld wat so uitbetaal word dadelik in ‘n ander pensioenfonds belê moet word ten einde te voorkom dat finansiële probleme na aftrede opduik.

 

Gelukkig verander mense se behoeftes na aftrede.  Daar behoort nie meer afhanklike kinders of maandelikse huispaaiemente te wees nie.  Dit is egter belangriker as ooit om ‘n goeie mediese fonds te hê aangesien brille, probleme met tande, chroniese medikasie en veral ledemaatvervangings nou algemeen voorkom.

 

Indien in alle opsigte reg vir aftrede voorberei word,  kan dit ‘n baie vervullende lewensfase wees.

 

DSC03848 (2)

Die haasbekkiekoor

 

DSC03849 (2)

Almal ernstig aan die toringbou