Sirkel: Paarl

Tak: Wellington

Beriggewer: Juanita Loubser

Datum: 25 Mei 2016

 

Op hierdie mooi herfs-amper-wintersdag hou ons vergadering by Monte Vidéo gastehuis . Tog te lekker om nuwe plekke te sien en ontdek en ons sameroepers het ‘n potpourri-oggend beplan.

 

Ons Voorsitter, Karen Barnard, wys aan lede hoe ons VLV-webwerf lyk. Daar is nogal baie wat nie toegang tot Internet het nie en hul geniet dit terdeë. Emmie Malan vertel ons van die vroetellappie/kombers wat ons as tak gaan maak en uitgee aan Alzheimerlyers om hul hande mee besig te hou.

 

Grietha van Zyl wys ons hoe om eksotiese plante heel jaar in jou huis te kan geniet bv. plant dit in ‘n mooi blompot met klippies onder en geniet die blomme. Jy hoef nie bosse blomme te koop nie, maar net jou plante die regte omgewing in die huis gee.

vlv5.3

 

Elize Strydom gee wenke vir orgideë: bevorder blomknop deur 1/2t Engelse sout by Simbidiums te gooi. Gooi kalk en beenmeel aan die kant in die pot langs die plant vir bemesting. Plant uit in Desember. En vat 3 knolle saam. Een sal oorleef en krag gebruik van die ander twee. Phyllanopsis kan flou Seagrow oplossing van 1/2t op 5L water kry.

 

Om wolluise hok te slaan maak 1L water, 1eetl brandspiritus en 1t opwasmiddel aan en bespuit.

 

Miwette Basson van Malmesbury kom deel wenke vir die klerekas met serpe en bykomstighede.

 

Lede ontvang ook hul kentekens vir lidmaatskap.

 

vlv5.2

LNR Alet Bullock (Pick ‘n Pay), Karen Barnard (Voorsitter), Karin Morkel (20jr), Dawn Greyling (10jr), Marieta Serdyn (10jr), Miwette Basson, Pick ‘n Pay-verteenwoordiger, Mynie de Goede (25jr). Voor: Rida Crouse (25jr) en Viodie Malan (25jr)

 

Ons lag lekker vir June Smit se voorlesing van Dana Snyman se Kerstafel en daarna proe en smul ons aan die lekkernye wat ons alles hierdie jaar vir kompetisies moet maak. Sommer ‘n dryfveer dat die lede kan sien en proe wat om te maak.