Sirkel: Kalahari

Tak: Kuruman

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Hettie du Plessis

Datum: 25 Mei 2016

 

 

DSC_0012

DSC_0016

DSC_0019

Herwinning kan inderdaad mooi wees. Daarvan het die uitstalling van verskeie items uit herwonne media behoorlik getuig.

 

Om by die tema van die vergadering aan te pas, het sommige dames uitrustings uit herwonne media aangetrek en ander het weer uitrustings wat hul agt jaar of langer gelede laas gedra het aangetrek. Dit op sigself het vir hope pret gesorg.

 

DSC_0001

Die tafels is pragtig met koerantpapier, ou naaldwerkpatrone en blomme wat van koeldrankbottels gemaak is, versier.

 

Janet West het geopen met ‘n verhaal van ‘n seuntjie wat vir homself ‘n bootjie gemaak het. Hy het daarmee in die water gespeel en dit verloor. Die volgende dag sien hy dit egter in ‘n winkelvenster. Hy gaan in en vra die winkelier of hy sy bootjie kan terugkry. Die winkelier sê hy moet dit terugkoop. Die seuntjie spaar toe totdat hy genoeg geld het om die bootjie terug te koop. Toe hy uiteindelik die bootjie gaan koop, sê hy: “Nou is jy dubbeld myne – ek het jou gemaak én ek het jou gekoop.” Netso behoort ons dubbeld aan God – Hy het ons gemaak én gekoop.

 

DSC_0004

Steven Kakara van Waste Tech, in Purchaselaan, Kuruman, het vertel dat hulle karton, wit papier, plastiekbottels en plastieksakke herwin. Hulle betaal 20c per kg vir karton, 40c per kg vir wit papier, 50c per kg vir plastiek koeldrankbottels, 50c per kg vir deurskynende plastieksakke en 60c per kg vir melkbottels. Daar is 20 2liter koeldrank bottels in 1 kg. Ander items wat herwin kan word, maar wat nie noodwendig by Waste Tech gedoen word nie, is koeldrankblikkies (sink en alluminium apart), glanspapier (tydskrifte), koerantpapier, gedrukte plastieksakke, glasbottels en buitebande.

 

DSC_0006

Petro Spangenberg het verduidelik hoe ‘n mens kompos maak.

 

Sy en Alta Roets het gewys hoe ‘n buiteband lyk wat Dries Coetzee opgedop en gesny het, spesifiek vir die doel om kompos te maak. Petro gebruik erdwurms om haar kompos te help verwerk, maar dit is nie noodsaaklik nie. Wanneer jy begin, plaas die buiteband in die skaduwee, gooi 10cm droë blare, dan 2,5 tot 5cm goeie tuingrond, dan grassnysels, en herhaal hierdie volgorde tot die buiteband vol is. Maak dit dan goed nat en los dit vir twee weke voordat jy dit omdolwe. Mens kan skille, eierdoppe, koerante, teesakkies en eierhouers in jou kompos gooi, maar geen proteїene (soos bene) of gaar voedsel nie. Moet ook nie takkies wat besmet is met plantsiektes in die kompos gooi nie, aangesien dit sal versprei. Die kompos moet wees soos ‘n nat spons. In die winter kan jy ‘n swart sak oor die buiteband trek, maar maak seker dat die kompos steeds genoeg lug kry. ‘n Mens kry pakkies kompos aktiveerder te koop as jy vind dat jou kompos ‘n hupstootjie nodig het.

 

DSC_0088

Arina Beukes het vertel van die ACVV Naaldwerk Projek waarby vroue uit die omgewing bemagtig word.

 

Arina leer hulle om naaldwerk te doen en wanneer hulle opleiding voltooi is, skenk sy die nodige masjiene sodat hulle vir hulself ‘n inkomste kan genereer. Tydens die opleiding word daar herstelwerk vir kliënte gedoen en ook verskeie verbruiksartikels gemaak. Die fondse wat daaruit genereer word, word weer terug geploeg in die projek.  Skenkings van materiaal en ander naaldwerktoerusting word verwelkom om die kostes so laag as moontlik te hou.

 

DSC_0059

Susan Cloete het gewys hoe die pophuise lyk wat sy uit herwinbare materiaal maak. Sy gebruik ou spieëls, melkbottelproppies, knope, hout, ensovoorts om vir Barbie en Ken ‘n pragtige woning te maak. Sy maak ook die mooiste popklere uit afvalmateriaal.

 

DSC_0072

Bessie Kriek met Alta Roets se tuisgemaakte “wet wipes”: Meng ‘n halwe koppie asyn, ‘n kwart koppie water, ‘n kwart koppie alkohol en een teelepel skottelgoedseep en gooi dit oor ʼn kombuispapier rol in ‘n emmertjie wat dig seël.

 

DSC_0075

Alta het ook ‘n demonstrasie van Tokreen boekrakstutte gedoen. Hier het Magdaleen de Klerk bygevoeg dat kreatiwiteit, netheid, die spesifieke mates, diepte, glans en balans alles ‘n rol sal speel wanneer die item beoordeel word.