Sirkel: Namakwaland

Tak: Vredendal

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: A Beelders

Datum:19 Mei 2016

 

By ‘n  VLV-vergadering hier, waarheen lede van buurtakke genooi is, is bekend gemaak dat huisvlyt kompetisies weer hoog in aanvraag is by die Landbouskou op Lutzville, einde Julie.  Deelnemers kan in al die bekende VLV-kategorieë deelneem,te wete gebak, preservering, naaldwerk, ensovoorts.  Daar sal ook ‘n spogtafel wees waarop enige spogartikel uitgestal kan word.

 

By dieselfde vergadering is bydraes van toiletware, soos tandeborsels en tandepasta, waslap, ensovoorts van lede gevra vir die VLV-uitreikaksie Raak Harte en Hande Plaaslik.  Die bydraes gaan op Boomplantdag in die eerste week van September aan ‘n skool in die plakkerskamp by Vredendal-Noord oorhandig word.

 

Sanet en Rita 2016

Rita Eitner, Marethe Engelbrecht en Sanet Ras

 

Marethe Engelbrecht het die dames vertel hoe om stylvol aan te trek.Die geheim is om jou figuur in ag te neem by die keuse van klere. Kies so dat figuurfoute verbloem word en sterk punte beklemtoon word. Dra ook klere wat pas by die geleentheid. Grys hare kan ‘n pragtige bate wees met die regte kleur klere en grimering. Skakerings van grys gaan baie mooi by grys hare en ook mooi pastelkleure in die algemeen. Sy het ook tyd afgestaan aan velsorg, veral die belangrikheid van olie vir die vel, asook haarkapsels en grimering. Die wenkbroue is baie belangrik, want dit omraam die gesig.