Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Kunste en Handvlyt, Leefstyl

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 18 Mei 2016

 

Die Mei 2016 vergadering van die Aberdeen VLV het in Graaff-Reinet plaasgevind en was weereens leersaam en propvol interessanthede.  Lede het by die nuwe gastehuis, Boer en Brit, van een van die lede, Heidi Lombard, byeengekom.  Hier is geopen met gebed, waarna VLV-sake bespreek is.

 

Terugvoering is gegee oor die Sirkel Middelland Konferensie wat gedurende Maart 2016 in Despatch plaasgevind het.  Afgevaardigde Lea van der Vyver het twee bekers namens Abrdeen-tak in ontvangs geneem, naamlik vir Bemarking en Administrasie van die tak.  Verder vertel besoekers aan die konferensie (Heidi Lombard, Lize de Jager en Annalie Lategan) dat veral die praatjie van Madelé Ferreira, Sanlam Vroue Entrepreneur van die Jaar 2014, baie inspirerend was.  Sy het vertel hoe sy begin het om 5000 aarbeiplantjies te plant tot waar sy vandag ‘n boerdery met 450 000 aarbeiplantjies het, wat gepluk, verpak en verwerk word.  Haar boodskap aan ander vroue is dat as God jou ‘n droom gee, Hy jou toerus om dit te verwesenlik – ‘n mens moet net nie moed opgee nie en geloof in God, jouself en die toekoms behou.

 

Na die afhandeling van VLV-sake besigtig lede die gastehuis en Heidi vertel hoe dit restoureer en versier is.  Die eindproduk is werklik keurig en lede wens Heidi sukses toe met haar besigheid.  Die gelukkige trekking van die dag word deur Lea van der Vyver gewen en sy ontvang ook ‘n verjaarsdaggeskenk vanaf die tak.

 

Voor Boer en Brit

Voor Boer en Brit Gastehuis met die bekers ontvang tydens Sirkelkonferensie:

LNR agter: Lize de Jager, Karin Pienaar, Annalie Lategan, Elna van Niekerk

LNR voor: Lea van der Vyver, Heidi Lombard, Stephnie van Zyl, Suzanne Lategan

 

Daarna verskuif die vergadering na Elsona Studio waar Elsona lede op ‘n toer deur haar fabriek neem.  Verskeie reekse handgemaakte produkte word vervaardig, naamlik handgeverfde keramiek, leer/ linnesakke, asook verskillende handgeverfte en gedrukte linneprodukte.  Sy het 45 plaaslike mense in diens en elkeen is opgelei om ‘n spesifike taak in hierdie kreatiewe besigheid te verrig om uiteindelik die hoë kwaliteit eindprodukte te lewer.  Die reekse word wêreldwyd verkoop, in eksklusiewe geskenk- en toeristewinkels en studios, sowel as oor die Internet.  Heidi Lombard (Sameroeper Kunste en Handvlyt) bedank Elsona vir haar tyd en almal is dit eens dat Elsona ‘n inspirasie en bewys is dat ‘n vrou met deursettingsvermoë en harde werk groot drome kan verwesenlik.

 

Elsona Studio 2

By Elsona Studio: LNR Elsona de Klerk, Elna van Niekerk, Suzanne Lategan, Stephnie van Zyl, Lea van der Vyver, Lize de Jager, Heidi Lombard, Annalie Lategan

 

Die dag word afgesluit met ‘n ligte ete by Polka Café.