Sirkel: Noordoos-Kaap
Beriggewer: Marieka Bekker
Datum: 14 Mei 2016

 

Saterdag, 14 Mei, het NOK se vroue gesellig op Sterkstroom by die NG Kerksaal vergader om 2017 se kompetisies te bespreek. Megan Moorcraft, Voorsitter van die VLV-tak Sterkstroom,en haar span dames, het gesorg vir die dag se reëlings. Antoinette van Pletzen, Sirkelpresident van NOK, het die dag geopen. Skriflesing en gebed is deur twee van Sterkstroom se lede gedoen.

 

foto 1

NOK Sirkeldag aanbieders, LNR Nan Fourie, Irma Davel, Christel Venter, Izak van Heerden, Retha Peens en Lenie Fourie

 

Irma Davel, Sirkelsaamroeper vir Kunste en Handvlyt, het die lede ingelig oor die vereistes vir die items wat hulle vir 2017 se VLVK en Sirkelkompetisies moet maak. Een van die items is ‘n inkleurprent wat ‘n Mandala genoem word. Dit is ‘n tipe inkleurprent wat baie besig en kleurvol is en deesdae ook hoogmode is as tydverdryf en as stokperdjie. Dit is ook ontspannend om te doen, maar Irma het beklemtoon dat dit uiters belangrik is om jou inkleurprent te beplan. Nog iets wat die dames moet doen is om ‘n brief te skryf. Dit gaan maar ‘n bietjie kopkrap en navorsing vat, want ons is deesdae so bederf met die Internet en ook korthand notas op ons selfone,  dat ek self nie kan onthou wat die reȅls is as dit by briefskryf kom nie!

 

Twee boekstutte moet met Tokreen versier word. Lenie Fourie , Sirkelsaamroeper vir Landbou en Tuinbou, het genoem dat as daar met Tokreen gewerk word, jy liewer met handskoene moet werk en ‘n ou lap moet byderhand hȇ.  Dit kan maar ‘n morsige spulletjie word. Tokreen is ‘n leeragtige, kleurvolle effek wat aan items soos glas, hout, plastiek ens. gegee word om nuwe lewe in die item te blaas. Lede moet ook ‘n voëlvoerder maak van ‘n herwonne item. Iets is herwinbaar wanneer jy dit wou weggooi en nou in iets bruikbaars omskep. Lenie het ook gesȇ dat wanneer jy sement onder in die voëlvoerder gooi, dit sal verhoed dat die saadjies so mors wanneer dit in die wind rondswaai omdat die sement ‘n bietjie meer gewig aan die voëlvoerder gee.

 

Nan Fourie, lid van Ugie-tak, het kom wys hoe om met quilling of paper filigree te werk. Dit is wanneer karton of papier in repies gesny en opgerol word om vorms te maak. Sy het die mooiste kaartjies en vertoonboksies gemaak. Dit is baie fyn werk en dit gaan verseker ‘n hele paar uur neem om die groetekaartjie te maak.

 

Foto 2

Dames wat die dag bygewoon het luister na die aanbieders

 

Christel Venter, Sirkelsaamroeper vir Leefstyl, het die blommerangskikking bespreek. Daar moet ‘n rangskikking uit slegs turksvyblare gemaak word. As jy die turksvyblaar met ‘n growwe sponsie afvee, sal daar geen dorings agterbly nie en kan jy met jou kaal hand verder rangskik. Ook het sy genoem dat die plek waar die beeste aan die turksvyblaar gevreet het en die blaar weer toegegroei het, behou moet word en dan kan die blare gevorm word om soos harte en sirkels te vertoon. Ek sal die sponsie diep gaan begrawe as ek klaar my blaar skoongevee het!

 

Retha Peens, Hulpsaamroeper vir Kunste en Handvlyt, het demonstreer hoe om  reukballe uit twee polistireenballe en gedroogde plantmateriaal te maak  en daarna met reukolie te geur. Dis belangrik dat jou bal rond moet wees as jy hom klaar versier het en dat die bal aan lint opgehang moet kan word. Retha het ook verduidelik wat sy verlang vir die teetafel vir twee. Sy het genoem dat jy in gedagte moet hou dat die ruiker klein moet wees sodat die twee persone mekaar kan sien.

 

Foto 3

Retha Peens bind lint om die polistireenbal vas

 

Izak van Heerden van Sterkstroom het die dames ingelig oor die gebak en gebottel wat vir 2017 gemaak moet word. Hy het ‘n houtbord laat ontleed om te toets of dit wel veilig is om te gebruik in die kombuis en dit het met baie goeie resultate teruggekom. Dus is het hy die dames aangemoedig om wel ‘n houtlepel vir veral konfyt-kook en lekkergoedmaak te gebruik. Hy het ook gesê dat as jy professioneel konfyt maak of groente en vrugte inlê, dit belangrik is om een pot stroop te gebruik waarin jy jou vrugte kook en ‘n ander pot met kokende stroop wat jy slegs gebruik om jou konfyt mee te bottel,  soos byvoorbeeld wanneer jy heel groenvyekonfyt maak. Kopersulfaat kan ook bygegooi word om die mooi groen kleur van die vrugte te behou. Izak het ook gesê dat as jy eierwitte klits vir meringue, dit belangrik is om ‘n glasbak of metaalbak te gebruik omrede plastiekbakke te poreus is en jou geklitste eierwitte se volume sal beïnvloed.

 

Dit was voorwaar ‘n baie insiggewende dag!  Die dames het oor middagete opgewonde die items verder bespreek en wat elk beplan om die jaar te oefen vir 2017 se kompetisies.