Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Victoria-Wes

Studierigting: Kunste en Handvlyt

Beriggewer: Elize Perrin

Datum: 14 Mei 2016

 

Tydens bogenoemde vergadering het die dames so bietjie terug beweeg in tyd.  Die veertigjarige bestaan van televisie in SA is herdenk en lede is versoek om soos een van die kinder TV-karakters van daardie tyd aan te trek. Alhoewel die gaste aanvanklik gedink het dat hul dubbeld sien, was dit net Liewe Heksie wat haar ouma saamgebring het. Natuurlik het (‘n ietwat vroulike) Blommie ook vir Heksie vergesel. Juffrou Rottermeier het ook die geleentheid gebruik om haar suster saam te nooi; net vir ingeval dissipline gehandhaaf moet word.  Met spesiale vergunning kon die  vroulike vorm van Haas Das ook die vergadering bygewoon.  Die “gewone” lede en besoekers het ook aan die verrigtinge deelgeneem.

 

Katie du Toit van De Aar het as spreker opgetree.  Katie het ‘n kort getuienis gelewer oor hoe haar en haar gesin se siening oor SA verander het nadat hulle herbesin het oor hul beplande emigrasie.  Aangesien hulle uit vrye wil besluit het om te bly, het hulle ‘n kopskuif  gemaak en met ander oë na die land en omstandighede gekyk. Katie is by verskeie gemeenskapsprojekte in De Aar en omgewing betrokke.  Sy het spesifiek meer kom vertel oor haar betrokkenheid by die Karoo Eisteddfod en wat kuns, dans, musiek en drama vir ‘n kind se kreatiwiteit en selfbeeld beteken.  Alida Viljoen, wat op Victoria-Wes die Eisteddfod koördineerder is, het Katie vergesel. Die VLV ondersteun reeds die afgelope paar jaar vir Alida deur middel van donasies vir die leerders se inskrywingsgeld vir die Eisteddfod.  Suksesverhale, van kinders vir wie daar aanvanklik nie veel hoop in skoolverband bestaan het nie, is met die dames gedeel.

 

Liewe Heksie (Anelia Vorster), ‘n nuwe lid, het hierna aan die dames verduidelik hoe juweliersware uit afval gemaak kan word.

 

Daarna is heerlik saam tee gedrink voordat ander  sake op die agenda bespreek is.

 

Simca du Toit was die wenner van die verrassingsmandjie.

 

SANY1274 (2)

Die groepie TV-karakters.