Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 11 Mei 2016

 

‘n Appel ‘n dag hou die dokter weg, maar Acqua-tak se Meivergadering het elke kwaal en skeet sommer sienderoë verdryf. Die Kwa-Kwa’s het góéd gebruik gemaak van die geleentheid om mekaar weer ‘n slag in die oë te kyk, mekaar te beleef en groot lekkerte te put uit mekaar se menswees. Die blye weersiens is genoeg om ‘n warmte om die hart te gee wat dae na vergadering nog steeds ‘n glimlag op die gesig sit.

 

mms_img149763708

 

Tanya Jackon het meer kom vertel oor die werk van die Smile Stigting. Smile is ‘n nasionale nie-regeringsorganisasie sonder winsoogmerk. Die Stigting is verantwoordelik vir gratis korrektiewe rekonstruktiewe chirurgie en behandeling vir kinders met abnormaliteite van die gesig. Sulke abnormaliteite sluit Moebius Sindroom, die letsels van brandslagoffers en ook gesplete lippies en verhemeltes in. Sjirurge tree pro bono op en die operasies word landswyd in samewerking met die Akademiese hospitale gedoen.

 

Gesplete verhemelte en lip is beide behandelbaar. Die oorwegende meerderheid van kinders met so ‘n toestand, die 4de mees algemene geboortedefek wêreldwyd, kan in die eerste jaar of twee van hul lewens korrektiewe chirurgie ontvang. Babas wat met ‘n gesplete verhemelte gebore word se kans om voor sy/haar eerste verjaarsdag te sterf, is twee keer groter as die van babas sonder so ‘n toestand. Die defek kan in so min as 45 minute herstel word.

 

Die Smile Stigting gee nie net hoop nie, maar ook ‘n leeftyd vol glimlagte.

 

Acqua het 20 kniekombersies, met liefde gebrei en gehekel deur Acqua-lede, aan Smile geskenk. Elke kombersie is versier met blommetjies, harte en ‘n “smily face”. Die kombersies sal tydens Smile Week aan elkeen van die 17 pasiëntjies op wie daar geopereer gaan word, geskenk word.

 

20160511_195358_resized

Tanya Jackson

tag

20160511_195342_resized

 

Sinako – We can is ‘n sentrum waar kinders (en ‘n beperkte aantal volwassenes), met spesiale behoeftes en gestremdheid, leiding, opvoeding en sorg ontvang. Sandy van Sinako en die personeel daar glo dat enige kind met ADHD, Outisme, Disleksie, Serebrale gestremdheid of ‘n ontwikelingsagterstand  die reg het op opvoeding. Die kinders en volwassenes word besig gehou en vaardighede geleer om hulle menswaardigheid ‘n hupstoot te gee. Wonderlike werk wat daar gedoen word.