Sirkel: Cradock

TakL Hofmeyr

Beriggewer: Teresa Opperman

Portefeulje: Openbare Sake en Gesondheid

Datum: 9 Mei 2016

 

Ysige koue weer het nie die dames van Hofmeyr VLV daarvan weerhou om ‘n heerlike leersame vergadering in die Sportklub by te woon nie.  Alida Swiegers van Middelburg,  wat ook optree as beoordelaar by die konferensies vanaf 2016, het riglyne rondom die nuwe tendense in blommerangskikking met die dames kom deel.  Sy het ook die stelling gemaak dat bloemiste rangskik, maar dat daar by ‘n konferensie na blommekunstenaars gesoek word.  Sy het talle voorbeelde van loof gebring en ook die verskillende style uitgelig wat deesdae hoog in aanvraag is.  Sy het onder andere foto’s van horisontale rangskikkings gebring wat ‘n sonsondergang uitbeeld wat asemrowend mooi was.

 

VLV Mei2016 003

Alida Swiegers

 

Sanet Coetzer is deur die Sameroepster van Openbare Sake, Marguerite Hattingh, gevra om meer inligting te kom gee oor die ACVV.  Baie mense weet die ACVV samel geld in, maar bykans niemand weet  wat die instansie werklik alles vermag nie.  Talle kinders in pleegsorg word versorg, gesinne wat hulpbehoewend blyk te wees word weer op die been gehelp en etes word voorsien waar dit broodnodig is.  Die Elizabeth Jordaan Tehuis en kompleks is ook afhanklik van die ACVV se finansiering, maar die skuiling op Cradock ressorteer nie meer daaronder nie.  Die ACVV is al meer as 100 jaar oud,  en gaan steeds van krag tot krag.  Dit ontvang egter nie enige finansiering vanuit die staatskas of die Lotto nie, omdat daar ‘n weerstand is teen die Afrikaner en die titel  is immers die Afrikaanse Christen Vroue Vereniging.  Daarom is dit des te meer belangrik dat elke Afrikanervrou sal betrokke raak sodat ons ook vir ons eie kan sorg.

 

VLV Mei2016 007

Sanet Coetzer het die dames aangemoedig om betrokke te raak by die ACVV

 

Karenza Fourie, Sameroepster van Gesondheid, het voorts aan die dames die siektes uitgelig wat sigbaar is deur bloot na die toestand van die tong te kyk.  ‘n Rooi opgehewe tong is tekenend van ‘n ystertekort, terwyl wit vlekke en seertjies dringend mediese aandag vereis.  ‘n Tong met hoogtes en dieptes is geen probleem nie, terwyl ‘n tong wat lyk asof dit wollerig is moontlik veroorsaak word deur ‘n swaminfeksie of swak mondhigiëne.  Die tong toon  ook soos wat dit ouer word krakies en plooie.

 

Sanet Coetzer en Nadia Bosch het die uitdaging aanvaar om soos Cowgirls aan te trek, en met die louere weggestap.

VLV Mei2016 001