Sirkel: Overberg

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 7 Mei 2016

 

Toe +150 VLV-lede en gaste op Saterdag 7 Mei ‘n damesoggend by die Oudekraal-onthaalsentrum naby Jongensklip (tussen Caledon en Napier) gaan bywoon het, was hulle ietwat onkant gevang deur die stormsterk Suidooster wat in die Ruensgebied gewoed het. Maar niks demp ooit ‘n VLV-vrou se entoesiasme nie, en die lede het met geesdrif hulle tafels reggemaak vir diè damesoggend met ‘n internasionale kleur en geur. Elkeen van die agt takke in sirkel Overberg het vir hierdie fondsinsamelingsfunksie ‘n land uitgebeeld met landsvlae, tradisionele eetgoed, versierings en kleredrag.

 

13133288_10208196104012582_7762808813247222905_n

Sirkelpresident Rienie Ludick verwelkom die gasspreker, lede en gaste by sirkel Overberg se Internasionale Damesoggend – elke land se mense word in hulle eie taal welkom geheet. Die vele maniere waarop ons dit in Suid-Afrika kan doen, het almal net weer laat waardeer hoe uniek is ons.

 

‘n Ware feestelikheid het dus op gasspreker Helene Truter gewag toe sy haar opwagting maak en saam met die gaste kon sy proe aan Suid-Afrikaanse potbrood&mieliepappoffertjies, Indiese kerrie&poppadoms, Portugese vishappies&sop, Italiaanse pasta&broodstokkies, ‘n verskeidenheid Duitse worsies&brötchen, Mexikaanse rissie&bone geregte, Hollandse spekbolletjies&oliebollen en Griekse olywe in slaai&ouzo, om enkele van die ongelooflike proesensasies op te noem.

 

13174124_1687303684820447_4411785311755509207_n

Hermanus-tak het almal se harte warm laat klop met hulle Suid-Afrikaanse aanbieding. LNR Nelmarie Theron, Charmaine Lombard, Cora Clark, Marlene Swart, Bertha Koekemoer en Magda Marais (Voorsitter).

 

Gegewe die vele identiteite wat sy as aktrise moet aanneem (o.a. ant Poppie van Vetkoekpaleis) en die vele wat sy as teksskrywer skep, het me Truter die gaste daarop attent gemaak dat ‘n mens sensitief moet wees daarvoor om ander mense se identiteit te respekteer. Dit begin deur mense se name reg uit te spreek en dit te onthou. En as jy ‘n persoon verwar met iemand anders, sorg asseblief dat daardie iemand nie leliker, ouer of oorlede is nie!

 

Sy het ook beklemtoon dat ons perspektief moet behou oor situasies in Suid-Afrika in vergelyking met die res van die wêreld. Ons moet besef wat bied hierdie land ons alles. Sy sien daagliks in haar winkel in Hermanus hoe die Suid-Afrikaners wat oorsee woon, aandenkings uniek aan Suid-Afrika koop om saam terug te neem. Dit is steeds hulle identiteit.

 

DSCN5958

Helene Truter (gasspreker) kon nie Villiersdorp se Duitse snoeperye weerstaan nie. Hier is sy (2de van regs) saam met Arina Naudè, Elza Smuts, Johlene Viljoen (Voorsitter), Mareen de Wet en Sarie le Roux.

 

Ter afsluiting het sy die gehoor aangespoor om vir Hermanus te stem in Kyknet-Kwela se “Dorp van die Jaar”-kompetisie, want daardeur gaan ons identifiseer met hierdie mooiste van omgewings waarin ons woon.

 

13179058_893330657442326_3361597460027185705_n

Agter die skerms is daar altyd mense wat sorg dat die wiele glad loop. Hier is Cecile Jonkheid (links), hulp-Sirkelsekretaresse, en Annatjie Liebenberg, Sirkelsekretaresse/tesourier besig met administrasie.