Sirkel Tygerberg

Beriggewer: Antoinette le Roux

Datum: 3 Mei 2016

 

Mary Honeybun

Mary Honeybun – jy verdien ‘n oorkonde!

 

Tydens Sirkel Tygerberg se Konferensie is Mary Honeybun vereer as ons Dankie-persoon van die jaar. Weens gesondheidsredes kon sy egter nie self die oorkonde kom ontvang nie.  By ‘n gesellige koek-en-tee is dit toe by haar huis aan haar oorhandig.

 

Mary Honeybun is die stigter en organiseerder van “Bread Tags for Wheelchairs”.

 

Mary, wat reeds in haar tagtigs is, woon in Noordhoek en het begin om broodknippies bymekaar te maak in 2008 toe sy haar heup ernstig beseer het. Sy het nou reeds 589 rolstoele en ander hulpmiddels verskaf aan persone met gebreke wat nie ‘n rolstoel kan bekostig nie. Sy het ook looprame verskaf aan kinders wat serebraal verlam is, en verswakte bejaardes.

 

Hoekom juis broodknippies?

 

Broodknippies word gemaak van ‘n hoëdigtheid polistireen met ‘n goeie markwaarde.   Dit kan omskep word in produkte soos 6-pak-plantbakkies, fotorame, spatlyste, kroonlyste , klerehangers, ens. Hierdie klein stukkies plastiek word uit die omgewing verwyder en in iets nuttigs omskep.

 

Mary en haar helpers sorteer en weeg die knippies daagliks en plaas dit in 1 kg pakkies waarna dit in swart sakke van 10 kg elk verpak word. Sy sorteer en versend meer as 400 kg broodknippies elke 6 weke. Dit verteenwoordig sowat 20 swart vullissakke vol. Sy verwerk sowat 8 ton knippies per jaar. Ongeveer 600 000 knippies koop ‘n rolstoel.

 

En so wil sy voortgaan solank sy die liggaamskrag daarvoor het. Haar mikpunt is om hierdie jaar die 600 kerf te bereik.

 

Mary Honeybun ons eer jou.

 

Oorhandiging van Oorkonde

Die Oorkonde van Sirkel Tygerberg word aan Mary Honeybun oorhandig deur Marinda du Toit (Waarnemende President) terwyl Caro Ekermans toekyk