Sirkel: Paarl

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 23 April 2016

 

IMG_3158 - Copy

VLV-lede en gaste voor die stap

 

Die lede van die VLV se vier Paarl-takke, asook Wellington-tak en ’n paar gaste het deelgeneem aan die WBPV se Women Walk The World. ‘n Geskiedkundige roete, van Het Gesticht Kerk tot naby Toringkerk in Hoofstraat Paarl,  is gestap op ‘n skoongewaste dag na hewige reën in die Boland. Twee “gidse”, lede van Sirkel Paarl wat die inligting bestudeer het, het dit aan die dames vertel soos wat daar noordwaarts gevorder is met Hoofstraat.

 

IMG_3167 - Copy

Geskiedkundige roete – net so jammer dat sommige van die gedenkplate afgesteel is

 

Die kleine Het Gesticht Kerk is in 1813 gebou deur mense in die Paarl as ‘n skool, kerk en samekomsplek vir die slawe wat die sendingaksies ondersteun het. Nadat dit te klein geword het vir die groeiende gemeente is die groter Zion Kerk in 1841 gebou. Die “Ladies’ Working Societies” in Kaapstad en Londen het geld ingesamel vir die konstruksie van die eenvoudige kerk in Gotiese styl met ‘n skool by. Dit het vir baie jare diens gedoen aan die gemeenskap. Ongelukkig het daar gedurende die 1960’s ‘n wet in werking getree wat die Bruin gemeenskap verbied het om daar te aanbid en het dit vir ‘n paar jaar leeg gestaan.

 

IMG_3166

Frouwien du Toit boei die dames voor Het Gesticht Kerk

 

Die fondse wat met die staptog ingesamel is, word geskenk aan die WBPV wat dit aanwend vir armoedeprojekte.

 

Een van die besbewaarde omgangs-argitektuur op die roete vind mens by Die Woning. Dit is ‘n H-vorm 18de eeuse Kaaps Hollandse huis met sy konvekse bolgewel gedateer 1784. Dit het eenvoudige vensters met soliede luike weerskante van ‘n staldeur. Dit verteenwoordig baie plattelandse huise van die tyd. Die eenvoud van die fasade dra by tot sy sjarme, net soos die sitplekke wat in die kantmure van die voorstoep gepleister is. Dit verteenwoordig ‘n tyd toe daar op die stoep met verbygangers gesels is. Die Paarl Munisipaliteit het die huis in 1982 gerestoureer en dit huisves vandag die dorp se argief, Paarl Drakensten Heemkring Argief. Dit bevat ‘n waardevolle rekord van dokumente en foto’s wat verband hou met die geskiedenis van die Paarl en kan op weeksdae besoek word.

 

IMG_3176

Van die dames voor Die Woning

 

Bokka Wagenaar van VLV se Slot-van-die-Paarl word bedank vir haar moeite om die leersame uitstappie te reël. Die uitstappie was soos die bekende rooibusritte in groot stede – jy kom later terug om ‘n deegliker besoek te bring!

 

IMG_3179

Slot-van-die-Paarl se deelnemende dames