Sirkel: NOK

Tak: Ugie

Studierigting: Landbou & Tuinbou

Aanbieder: Doreen Jafta

Beriggewer: Antoinette van Pletzen

Datum: 21 April  2016

 

Sirkel NOK behandel elke jaar ‘n spesifieke land, en vanjaar het Nederland aan die beurt gekom. Op Ugie het ‘n au pair, wat ‘n paar jaar gelede in Nederland gewerk het, haar indrukke gegee.

 

Die Nederlanders is baie vriendelik en joviaal, hulpvaardig en gesond. 90% ry fiets werk toe, skool toe en selfs om inkopies te doen. Buksfietse het ‘n groot krat vooraan wat met ‘n seil toegespan is. Nederlanders is lief om buite kroeë by tafeltjies te kuier – selfs die koningin smelt so saam met haar mense in. Huise is klein en gesellig, die strate is skoon en elke dorp het ‘n plein waar eetgoed soos drop (liquorice), bokkoms en stroopwafels by stalletjies verkoop word. Sjokoladeversiersel op brood is ‘n lekkerny, so ook gemmerbroodmannetjies, kaas en sjokolademelk.

 

Geniet ‘n bootrit in die kanale of stap deur die klein straatjies. Sinterklaas kom op sy wit perd en bring sy helper, swarte Piet, saam om geskenkies in Kerstyd aan kinders uit te deel. Kinders moet onthou om ‘n wortel vir die perd in hul skoene te los. Ouer mense is baie gasvry en vertel graag stories en fabels oor Nederland. Tydens feeste trek die mense verskillende kostuums aan en kuier in die strate. Vir Koninginsdag trek almal weer oranje aan.

 

Sewe sleutels van geluk in ‘n huwelik:

Aanvaar die verskille.

Sien kans vir uitdagings.

Droom dieselfde drome en beplan saam aan die toekoms.

Opofferings van beide kante.

Kommunikasie bou brûe.

Kry ‘n veiligheidsplan – ‘n plek waar albei veilig en gekoester voel.

Gebruik jul lopersleutel: Bid saam en stap die pad saam met Jesus!

 

Huis & Haarde van 1956 en later is in ‘n plaashuis naby Ugie ontdek. Wat ‘n ontdekkingstog!! Die tak het by die afgelope Sirkelkonferensie die 3de plek-trofee verower met hul kompetisiedeelname en dit is behoorlik gevier!

 

DSCN2856

Taklede spog met hul trofee! Voor sit Marianne le Roux, Nan Botha, Peggy Franks en Sirkelpresident Antoinette van Pletzen. Agter staan Nan Fourie, Doreen Jafta, Ina Bekker, Johanna Lambrechts, Polla de Klerk en Christa Rossouw

 

Lede het die aartappelaanleg en wildplaas van Willem de Klerk in die Ugie-omgewing besoek.

 

DSCN2787

Die aartappels word goed skoongemaak en gewas voordat dit gesorteer word

 

Kapaailand Wild se leuse is “Waar gehardheid en kwaliteit ontmoet”, omdat daar vanuit die hoogste genetika beskikbaar wild geteel word wat op byna enige ander plek sal aanpas. Die wild word blootgestel aan uiterste strawwe winters en baie nat somers, wat suurveld tot gevolg het. Kapaailand Wild is geleë aan die voet van die Drakensberg in die Noordoos-Kaap.

DSCN2816

Tydens die wildsbesigtigingstoer agter op die bakkie: Nan Botha, Doreen Jafta, Christa Rossouw, Johanna Lambrechts en Antoinette van Pletzen