Sirkel: SWD

Tak: Herbertsdale

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Irma Muller

Datum: 16 April 2016

 

Saterdagoggend,16 September, was die atmosfeer gelaai met afwagting en opgewondenheid. Terwyl die lede die laaste afrondings aan hul keurig gedekte tafels gedoen het, het sommige laggend en spelerig ‘selfies’ van hulself en ‘n vriendin by hul betrokke tafels geneem.  Die gaste, waarvan die meeste ewe degtig uitgevat was in hul mooiste vintage drag, het almal betyds opgedaag.  Sommige gaste, self VLV-lede, het van so ver as Willowmore gekom.

 

DSC_0713

Fyn detail op die keurig gedekte tafels

 

Die groot aantrekkingskrag was natuurlik die bekroonde skrywer, Riana Scheepers.  Sy het vertel hoedat ‘n artikel in die London Times, terwyl sy as jong meisie in Engeland getoer het, haar hele lewe verander het.  Volgens die artikel was die rykstes van rykes nie altyd gelukkig met hul rykdom nie, en het hulle almal maar bloot totale eenvoud begeer.  Riana het besef dat sy het wat die rykstes nie het nie:  met ‘n knap begroting het sy die wêreld kon deurreis, en plekke gesien en ervarings beleef wat van haar ‘n skatryk mens gemaak het.  Sy het die gaste aangemoedig om hul drome en ideale te bly nastreef, ongeag hul ouderdom en omstandighede.  Sy het ook ruiterlik erken dat sy skryf oor dit wat die Here vir haar gee.

 

DSC_0744a

Riana Scheeprs, vierde van links, saam met van die VLV-lede van Herbertsdale

 

Déjá Vu Vintage House van Mosselbaai het die lokaal opgehelder met ‘n vintage uitstalling bestaande uit modes, boeke, plate en veel meeru uit die verlede.  Me Joan Carstens het vertel wat haar en haar man, De Waal, se idee met hul winkel was en wat hulle alles daar doen en aanbied.

 

DSC_0736a

Vintage uitstalling van Dèjá Vu Vintage House

 

Cornelle Carstens het die vroue vermaak met twee verskillende eenvrou vertonings, en het ‘n lieflike Flamenco-dans in ‘n rooi en swart rok gedans.  Die gaste het haar spontaan encore toegeroep en sy moes weer dans!

 

Die gaste in hul mooi vintage drag moes deelneem aan die modeparade en Riana Scheepers moes die uitrusting wat vintage die beste versinnebeeld, as die wenner aanwys.  Die dame van VLV-tak Klein-Brakrivier het ‘n lieflike geskenkbewys van Woolworths gewen.

 

DSC_0740a

Gaste in hul vintage drag

 

Die rede vir die hou van die Vintage Tee, was om fondse in te samel vir die VLV-konferensie van 2017, wat op Herbertsdale aangebied gaan word.  Me Emsie Marx het haar tevredenheid met die pragtige geleentheid uitgespreek en sy bedank almal vir hul goeie ondersteuning.