Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 15 April 2016

 

Almal van ons het ‘n droom.  Baie van ons besef dit net nie, want ons is só besig met elke dag se uitdagings, dat daar kwalik tyd oorbly vir drome.  Soms gebeur dit egter dat iemand vasskop en besluit om sy jarelange droom gestalte te gee, hoe onmoontlik dit ookal mag klink, en hierdeur die drome van honderde ander ook waar te maak.

 

Só iemand, is Danie Pieterse.  Hy het tydens Hantam VLV se Leefstylvergadering, o.l.v. Adolene Nel, sy storie kom deel.  Vir jare was dit Danie se begeerte om ‘n persoonlike pelgrimsstaptog aan te pak, tussen die grafte van sy oupas, wat beide groot indruk op sy lewe gemaak het.  Die grafte is op die plase waarop hulle geboer het, die een in die Tankwa Karoo en die ander, ‘n wingerdplaas, in die Boland.  Die staptog sou tussen Rodewal en Ceres wees.  Toe ‘n vriend, Charl van der Merwe, van hierdie voorneme te hore kom, het die beplanning vinnig op dreef gekom en kort voor lank, het ‘n groep van 45 uiteenlopende mense ingeskryf, om aan die eerste Karoo-staptog deel te neem.  Prakties en logisties was dit ‘n groot uitdaging, met uiterste weerstoestande op die pad.  Alles en almal was nat, windverwaaid en deurmekaar, maar dit alles ten spyt, het Danie besef dat hierdie staptog beslis gekom het om te bly.

 

Sedert die eerste staptog, het baie dinge verander, maar tog ook dieselfde gebly.  Die naam het intussen die Tankwa-Camino geword, aangesien dit voorwaar ‘n geestelike én fisiese pelgrimstog is, baie soos die Camino wat in Spanje gestap word.  Die verskil is egter dat die Spaanse weergawe van meer as 800 km, elke stapper toelaat om op sy eie tyd, oor maande selfs, elke dag net sowat 12 tot 15 km tussen skilderagtige dorpies te stap.  Saans slaap daardie stappers ook in weelde in gastehuise en geniet die inwoners se gasvryheid en bederf.  In die Karoo egter, trotseer elke stapper uiterste natuurstoestande, slaap hy in ‘n tentjie wat hyself moes opslaan, met ‘n seer lyf en stukkende voete en strek die staptog van 256 km oor slegs 10 dae.

 

Alle ouderdomme mans en vroue, fiks en onfiks, beginner en deurwinterde stapper, neem aan die Tankwa-Camino deel.  Die meeste van hulle stap dit as ‘n persoonlike uitdaging of om trauma en seer te verwerk.  Sommiges kan nie genoeg kry daarvan nie en stap dit vanjaar al vir die derde maal en die staptog is deesdae al só gewild, dat dit vanjaar 4 keer aangebied word.  Maar almal wat dit al gestap het, sal dit beaam:  agterna is jou lewe nie weer dieselfde nie!  Die fisiese uitdaging wat die staptog bied, leer elke stapper presies waartoe sy eie liggaam en gees in staat is.  Gewoonlik gaan dit baie jolig en ligvoetig op die eerste dag van die staptog, tot in die Bloukranspas.  Op die tweede dag, tot by Voëlfontein, begin die blase gewoonlik kop uitsteek.  Gelukkig kan die stappers verder aangaan, ten spyte van die ergste blase, deur oksiedpleisters daaroor te plak.  En op die derde dag, begin die stappers teësinnig raak.  Dis dán wat elkeen begin wonder:  “Waarom het ek dit aan myself gedoen???”  Volgens die wet van die gemiddeldes, is daar dan ook ten minste 2 mense wat terugdraai.  Maar as ‘n mens net verby hierdie belangrike sielkundige mylpaal kom, is dit asof jou kop reg skuif en dan kan jy omtrent die res van die pad drafstap tot die einde.  ‘n Mens besef gewoonlik nie jou eie uithouvermoë tot jou kop reg is nie en as hulle oor die laaste 50 km terugkyk oor die Theronsbergpas, kan menige van die stappers nie glo dat hulle dit werklik gemaak het nie!

 

Die ondersteuningstelsel van die Tankwa-Camino is merkwaardig.  Twee vragmotors met twee watertenks begelei die stappers.  ‘n Voertuig ry daagliks heen-en-terug tussen die stappers om enige ongevalle te hanteer.  Watersakke word deurlopend gevul en seisoenale vrugte word uitgedeel.  Alle kampbagasie en kombuisbenodigdhede word van die een kampplek tot die volgende vervoer.  Wanneer die stappers aan die einde van die dag se ongeveer 25 kilometers by die kamp aankom, wag ‘n verkwikkende tee-met-heilsame-verversing op hulle, asook ablusiegeriewe met potte warm water om die seer en stof af te was.  Aandete word voorsien, wat insluit braaivleis, potjiekos of ander tradisionele geregte.  Veral stappers uit die stad is gaande oor die anderse voorbereidingsmetodes en vervloë dae se stories hieroor en ander staaltjies uit die distrik.   ‘n Inspirerende boodskappie word elke dag aan die stappers gelewer, om die moraal en die emosies positief te hou.  Dit is gewoonlik ‘n groot hoogtepunt.

 

Vir die stappers beteken die Tankwa-Camino persoonlik ontsaglik baie, maar vir die organiseerders, is dit telkens ook ‘n grootse belewenis.  Om te beleef hoe verdienstelike organisasies baat vind deur besighede wat stappers se treë borg;  om te sien hoe ongewone, hegte vriendskappe oor die verloop van die tyd gesmee word;  om saam met ‘n stukkende siel die genesende krag van stilwees te ervaar.  In die woorde van hóm wat met ‘n droom en ‘n visie ander se drome waarmaak:  “My lewe het betekenis… ek verryk ander se lewens… Oupa, ek eer jou nalatenskap.”

 

 

IMG_8838

Tydens Hantam VLV se Leefstylvergadering, het Danie Pieterse kom verduidelik waar die Tankwa-Camino sy ontstaan vandaan het, maar ook veral wat die leefstyl van ‘n Tankwa-Camino stapper is.  Die dames het letterlik aan sy lippe gehang, met al die wonderlik inspirerende verhale wat hy vertel het.  Op die foto verskyn van links Jonita van der Merwe, hulp vir die vergadering, Adolene Nel, Leefstylsaamroeper, Danie Pieterse en Janine Brynard, Voorsitter van die tak.

 

IMG_8840   IMG_8842

 

Adolene Nel verduidelik wat ‘n stapper alles mag nodig kry op ‘n staptog in die berge, of selfs op die Tankwa-Camino.  Deesdae kan ‘n mens die allerwonderlikste katoeters en hulpmiddels in buitelugwinkels koop, om die staptog so gerieflik moontlik te maak.