Tak: Victoria-Wes

Sirkel:  Noord-Karoo

Portefeulje:  Gesondheid

Beriggewer: Elize Perrin

Datum: 15 April 2016

 

Die plaaslike dieetkundige, Elri Naude, het die VLV se Gesondheidsvergadering op 15 April ingelei met ’n baie interessante praatjie.  Sy het veral op bejaarde persone gefokus en wenke oor hulle eetgewoontes verskaf.

 

Algemene probleme wat by bejaardes voorkom, is aptytverlies, afname in aktiwiteite, depressie en alleenlopers wat hulle lus verloor om self te kook. Eetgewoontes moet aangepas word by persone se ouderdom. Ouer mense begin soms sukkel om te sluk, is nie altyd dors nie en hul smaak en reuk word beïnvloed.

 

Die tweede spreker vir die oggend was die plaaslike arbeidsterapeut, Andria Loots. Sy het wenke gegee oor hoe bejaardes hanteer moet word. Klem is gelê op die feit dat bejaardes ingesluit moet word oor besluite rakende hom-/haarself, asook dat hulle ten alle tye geleentheid gebied moet word om hul waardigheid te behou. Sy beveel ook aan dat ouer mense se lewenskwaliteit ten alle tye behou moet word, selfs in ‘n beperkte omgewing en met beperkte vermoëns.

 

Gebreide kappies en sokkies vir vroeggebore babas is namens Sirkel Noord-Karoo aan die twee dames oorhandig.  Dit sal by die plaaslike hospitaal aangewend word.

 

Die dames het ook besluit om voort te gaan met die maandelikse Storietyd by die Jannie Jansen biblioteek in die informele nedersetting.  Kleuters wat nie speelgroepe of kleuterskole bywoon nie, is die teikengroep.

 

SANY1297

LNR Andria Loots, Erna Jeppe (Sameroeper Gesondheid) en Elri Naude