Sirkel: Noord-Karoo

Tak: Murraysburg

Beriggewer:  Mette Kromhout

Datum: 13 April 2016

 

Tydens die VLV-voorsitter,  Renèe Swanepoel,  se Aprilvergadering,  kon elke teenwoordige heelwat oor ‘n verskeidenheid onderwerpe leer.

 

Wilna Pienaar het onderhoudend oor die onlangse Konferensie met die tema “Droom, glo en leef”  verslag gedoen.  Elkeen se verpligting om iets te doen in plaas van net te mor oor dinge wat in ons land skeefloop, asook ons verantwoordelikheid teenoor die natuur is uitgelig.

 

Die altyd kreatiewe Renée Swanepoel demonstreer hoe ‘n afgeleefde T-hemp ‘n nuwe lewe as nuttige inkopiesak kan kry, terwyl Chrisna Smith se demonstrasie van haar smaaklike roomkaasskeppings die monde behoorlik laat water het.

DSC02543 (2) (2)

 

Aangesien  ongewenste vetrolletjies verskeie lede teister, is Erika Grebe se praatjie oor die 90 dae FATS-uitdaging met groot belangstelling gevolg.  Niks anders as Erika se nuwe, slanke voorkoms sou dié eetplan beter kon adverteer het nie.  Aldus haar voorsien die Osolean-poeier,  ‘n Mannatech-produk,  die liggaam van die nodige voedingstowwe om die metabolisme optimaal te laat funksioneer en slegte vette te teiken sonder om die spierkrag enigsins te benadeel.  Dit bevat slegs natuurlike en plantaardige bestanddele en word twee keer per dag voor maaltye gebruik.  Sy vermy wel koolhidrate en suiker so ver moontlik, maar is nie fanaties daaromtrent nie.  Grebe geniet die gewigverloorproses terdeë aangesien sy dit in ‘n groep aangepak het en hulle een keer per week d.m.v. Whats App aan mekaar verslag doen.

 

Rialene van der Merwe het die dames oor MS ingelig.  MS is ‘n kroniese,  neurologiese siekte,  wat die sentrale senustelsel (die brein en spinale koord ) aantas.  Dit word gewoonlik by pasiënte tussen die ouderdomme van 20-40 jaar gediagnoseer en kom meer by vroue as mans voor.  MS is die gevolg van skade aan miëlien,  die murgskedestof,  die beskermende laag om senuwees in die brein en rugmurg.  Die simptome van MS varieer baie ten opsigte van die intensiteit en plek waar dit die liggaam aantas.  Optiese neuritis,  die verlies van spierkrag in die arms en bene,  pyn,  blaas- en kolonprobleme,  versteurde balans en koördinasie,  moegheid,  veranderinge in die kognitiewe funksies en gemoedsteurings is van die simptome.  MS is gelukkig nie aansteeklik of oorerflik nie.

 

Die plaaslike VLV-bestuur doen baie moeite om interessante en relevante inligting aan die lede te verskaf.