Sirkel: Middelland

Tak: Acqua

Portefeulje: Kunste & Handvlyt

Beriggewer: Natania Schmidt

Datum: 13 April 2016

 

In die maand van gekke en dwase het Acqua-lede vrye teuels gegee aan hul kreatiwiteit, inligting ingewin oor fotografie en hul verlustig in die woordkuns.

 

André P Brink se storie van Oom Voëltjie en die Krismiskoek, soos gepubliseer in sy omnibus van humor, Mal en ander stories, het gesorg vir groot vermaak. Oom Voëltjie was beslis ‘n brawe man in die aangesig, of liewer by die aanhoor, van die leeu se gebrul. Tant Koeks het, tot groot ontsteltenis van oom Voëltjie, haar koek platgespring. Hoe sou hy nou sulke onverantwoordelike gedrag aan hul nege dogters moes verduidelik?

 

Liesl Barrow, fotograaf van Pro Design, het ‘n paar baie nuttige wenke gegee oor selfies en hoe om te verseker dat jy elke keer op jou beste gekiek word. Wanneer jy met jou slimfoon ‘n foto van jouself neem, gewoonlik om op ‘n sosiale netwerk te laai, word dit ‘n selfie genoem. Die Oxford Dictionaries het die woord “selfie” in 2013 aangewys as die internasionale woord van die jaar.

 

Kim Kardasian, die ongekroonde koningin van selfies, is van mening dat jy jou fotohoek moet kry en dan kameragereed moet wees. Sy sê dat jy jou gesig moet bestudeer en dan soveel foto’s moontlik moet neem om jou beste posisie te bepaal.

Liesl stem met haar saam. Haar raad is om ‘n paar selfies uit verskillende hoeke te neem en sodoende jou beste fotohoek te ontdek.

 

  • Dit is belangrik om lig reg in te span. ‘n Helder gefokusde kameraskoot vereis dat jy na die skerpste lig toe moet draai. As jy met jou rug na die lig toe staan, is jou foto van agter af belig en sal daar ‘n sagte stralekransie om jou kop geskep word.

  • Maak seker dat wat in die agtergrond is jou nie in die verleentheid kan stel nie.

  • Indien die kamera hoër as ooghoogte is, sal die hoog-na-laag-hoek ‘n verslankende effek hê.

  • Selfies is lank nie meer nét foto’s van jou gesig nie.

  • ‘n Selfiestok is ‘n handige katoeter om byvoorbeeld ‘n groepfoto te neem.

  • Daar is verskeie toeps, wat gratis afgelaai kan word, om selfies na nuwe hoogtes te neem. Facetune sal sorg vir ‘n foutlose gesig.

  • Haal diep asem en glimlag. Die mond en oë is die fokuspunte van ‘n foto.

 

Eierdosies is ala VLV in blomme omskep. Sameroepster Hannelie Low het stap vir stap verduidelik. Die lede kon vrye teuels aan hul kreatiwiteit gee en pragtige blomme is geskep. Weggooigoed kan in ‘n japtrap in mooigoed omtower word.

 

Die Kunste & Handvlytvergadering was in ware Acqua-styl ‘n diverse, propvol en vrolike aand.