Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Landbou en Tuinbou, Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 13 April 2016

 

Vir hul April vergadering het die lede van Aberdeen VLV byeengekom op Kriegershoek Natuurreservaat buite dié dorp.  Dit is ‘n privaat reservaat en nie oop vir besoek van die publiek nie. Hier is hulle gul ontvang deur eienaars Bert Schade en sy vrou, Arpana Landheer, ‘n Hollandse egpaar wat hulle ongeveer 10 jaar gelede hier gevestig het.

 

Foto 1 Wildrit

Wildrit op Kriegershoek

 

Die oggend skop af met ‘n wildrit op die plaas deur Bert.  Hy waarsku dat die wild nie net regstaan in ‘n kampie nie en dat dit moontlik is om geen wild te sien nie – lede was egter so gelukkig om al die wildsoorte op die plaas te sien!  Dit is ‘n rit waartydens daar baie gelag, gesels en vrae gevra word. Plek-plek moes daar sommer styf vasgeklou word om nie af te val nie.

 

Foto 3 Kameelperd

Kameelperd

 

Foto 4 Suzanne Elna Steph

Suzanne Lategan, Elna van Niekerk, Stephnie van Zyl geniet die rit

 

Met die terugkeer van die veld word ‘n vingerete op die stoep voorgesit.  Tydens ete word twee nuwe lede deur Voorsitter Lea van der Vyver verwelkom, naamlik Luise de Jager en Gloria Peniston.  Die gelukkige trekking van die dag word deur Suzanne Lategan gewen en lede wat verjaar word ook gelukgewens (Jadré Lategan, Stephnie van Zyl en Annalie Lategan).

 

Daarna vertel Arpana, ‘n sielkundige, meer van die Arpana Stigting en hulle werk onder minderbevoorregte kinders.  Na aftrede in Holland het die egpaar besluit om hulle passie te volg en om in Suid-Afrika te vestig met die fokus op natuurbewaring sowel as opvoeding en ontwikkeling van en hulp aan minderbevoorregte kinders.

 

Foto 2 Annalie, Arpana, Bert

Annalie Lategan, Sameroeper Landbou en Tuinbou, bedank vir Arpana Landheer en Bert Schade

 

Die dag word afgesluit met ‘n kort staptog tussen werkers se huise en die besigtiging van ‘n gastehuis wat volgens dieselfde ontwerp gebou is.  Bert en Arpanna vertel van die uitdagings waarmee hulle te kampe het, sowel as suksesse wat hulle al bereik het.

 

Foto 5 Annalie, Suzanne

Annalie Lategan oorhandig die gelukkige trekking pakkie aan Suzanne Lategan