Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Lettie Van Wyk

Datum: 7 April 2016

 

Op ‘n lekker warm herfsoggend het Nina Timm, RSG se welbekende kuberkok, by Brackenfell VLV kom kuier tydens die oggend wat Bettie Döckel, Brackenfell se Leefstylsameroeper, gereël het.  Daar was ‘n hele paar van ons ander VLV-riendinne en ander belangstellendes ook teenwoordig.

 

IMG_2017

Bettie Döckel en Nina Timm

 

Wat ‘n wonderlike voorreg om hierdie besondere mens met haar sprankelende persoonlikheid in ons midde te hê! Sy het ons nie net oor koekbak geleer nie, maar ook ‘n paar kosbare lewenslesse gegee. Ons as vroue wil so baie keer uitreik na ander, maar dan vergeet ons dat die ‘ander’ partykeer om ons eie tafel sit!

 

Nina het vroeg in haar lewe met VLV te doen gekry. Terwyl sy by die destydse Landbouskoue die uitstallings in Blomme, Gebak en Naaldwerk bewonder het, het sy telkens moes hoor “daardie dame met die baie pryse, behoort aan die VLV!”.

 

IMG_2022

 

Vandag gaan Nina se praatjie oor die nederige sponskoek, wat sy met ons vroue vergelyk.  God het ons almal gemaak om ‘n suster, ‘n dogter, ‘n vrou, ‘n vriendin te wees. Net soos die sponskoek, het ons almal baie potensiaal.

 

Ons moet nie bly by wat ons is nie.  Sy neem ‘n enkellaag sponskoek, en deurdrenk dit met suurlemoenstroop, versier dit met dotjies ‘lemon curd’ en ‘n suurlemoenskyfie of twee en siedaar! ‘n Heerlike skepping om saam met jou vriendin te geniet.  Ons wil graag almal mooimaak, maar hoeveel tyd spandeer ons om vir onsself die lewe mooi te maak?   Hoe lank spandeer jy aan jouself?   “You must prepare the land, because the rain is coming”.

 

IMG_2036

 

Sponskoek nommer 2 is ‘n skewe koek – want die lewe is soms maar skeef.  Ons kan egter hierdie skewe koek mooi maak. Sy plaas ‘n kruisie, wat ons geloof simboliseer, ‘n paar pragtige blommetjies en hemelse vye op die koek. Nou lyk dit bietjie anders! Dieselfde bestanddele, dieselfde koek, net bietjie anders.

 

IMG_2037

 

Sponskoek nommer 3 is net krummeltjies. Jy kan iets verloor, die lewe klap jou en jy verloor miskien jou geloof.  Hoe gaan jy aan?   “If you stop, you die”. Jy moet elke oggend opstaan en sê:  “vandag gaan ek hierdie krummeltjies mooi maak”. Sy pak die krummeltjies in ‘n mooi bord en versier dit met wit sjokolademousse en vrugte. Nina se weergawe van ‘n ‘deconstructed triffle’ kom te voorskyn. Moet nooit jou geloof verloor nie, want daarsonder is dit onmoontlik om God te behaag.

 

IMG_2040

 

Gaan loer gerus in by Nina se blog, www.my-easy-cooking.com vir heerlike resepte en wenke.