Sirkel: Namakwaland
Tak: Nieuwoudtville
Portefeulje: Kunste & Handvlyt
Berriggewer: Erika Kotzé
Datum: 7 April 2016
Nieuwoudtville VLV se Kunste en Handvlyt portefeulje het op 7 April 2016 in die kerksaal ‘n kunsskool aangebied om lede bekend te stel aan die konferensie kompetisie-items.
Kundiges van Nieuwoudtville het praktiese wenke, ‘n uitstalling en demonstrasies gelewer om lede bloot te stel en te verduidelik dat dit nie so moeilik is nie. Tydens die aanbieding van elke item is die vereistes, groottes, lengtes, aanbieding en beperkinge ook deurgegee, sodat daar nie artikels gemaak word wat nie aan die kompetisievereistes voldoen nie.
Wessie van der Westhuizen het haar vaardighede gebruik om quilling, ook genoem filigree, aan die lede voor te stel. Die korrekte papier, hulpmiddels en voorbeelde is gebruik om ‘n veeldoelige blanko groetekaartjie van 15 x 20cm met quilling te versier.
Wessie demonstreer quilling
Ronelle Zirkel het ‘n paar idees gedemonstreer om reukballe (pomanders, kissing balls) te maak uit gedroogde plantmateriaal. Die klem is gelê daarop dat dit ‘n paar (2) bypassende reukballe met lint-hangbandjies, wat tussen 12 en 20cm groot vir die kompetisie, moet wees.
Ronelle demonstreer reukballe
Wessie het baie moeite gedoen om lede heelwat inligting, wenke en voorbeelde te gee oor die beste tegniek om twee boekstutte met tokreen te versier. Die maksimum grootte is 12 breed en 20cm hoog.
Wessie demonstreer Tokreen
Voltooide Tokreenartikel
Nakkie van Wyk het weer met apparaat en kundigheid gewys hoe maklik dit is om ‘n historiese gebou van waarde suksesvol af te neem. Die foto moet in landskap met ‘n digitale kamera afgeneem word en die glans kleurfoto in A5 vertoon.
Nakkie demonstreer foto van historiese gebou van waarde
Wessie het ‘n brief oor ‘n ouma se werksmandjie met baie gevoel voorgelees. Die brief moet tussen 500 en ‘n 1000 woorde wees en in Arial 12 lettertipe met ‘n 1 en 1/2 spasie getik wees in swart op wit papier.
Erika Kotzé het die boekbespreking van die boek Vermis op Allesverloren deur Anchen Troskie aan die lede bekend gestel. Die boek is ook beskikbaar vir die lede om te leen. Die vereistes is reeds op ‘n vorige vergadering gedurende 2015 bespreek.
Erika het ook die lede ingelig oor die leeroorbelle. Dit kan geverf en versier word, maar die belangrikste is dat dit bruikbaar is asook dat die oorbel 75% uit leer moet bestaan. Daar sal gekyk word na kreatiwiteit, hoe prakties dit is en die vakmanskap.
Items moet ten minste 71% op takvlak behaal om na die Konferensie te gaan om sodoende hoë standaarde te handhaaf. Kompetisies op takvlak is die ideale platform om te oefen en positiewe en opbouende terugvoer te kry en lede te ontwikkel.
Leave A Comment