Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Leefstyl – Tuisteskepping

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Datum: 29 Maart 2016

 

Die resep vir ‘n perfekte VLV-vergadering op Kleinmond.

Bestanddele:

  • 17 vriendelike VLV-lede by ontvangs
  • 1 VLV-lid wat die opening waarneem met kosbare gedagtes oor vriendskap
  • 80 resepteboekies op die stoele uitgepak
  • 1 dinamiese spreker met ‘n interessante demonstrasie
  • 2 geregte om te proe
  • 12 uitbundige Kaapse Klopse met ‘n kitaar- en ‘n trekklavierspeler
  • 3 fotograwe om alles vas te lê
  • 17 borde eetgoed en paaseiers saam met die tee
  • 80 flessies piccalilli om saam te neem huis toe
  • 1 Sirkeldag om na uit te sien

 

Dit was die resep waarmee die VLV-lede van die Leefstylgroep (Tuisteskepping-afdeling) almal se voete onder hulle uitgeslaan het tydens die maandvergadering op 29 Maart. Nadat Wilma Fÿfer die vergadering geopen het met heelwat stof tot nadenke oor die rol wat vriendinne in ‘n vrou se lewe speel, het Renè Wright, taksaamroeper, die gasspreker aan die gehoor voorgestel. Heloïse Erasmus, bemarker van Miami Canners, Letsitele, het die gehoor saam met haar op haar lewensreis geneem. Op ‘n sjarmante en pittige wyse het sy vertel hoe sy met VLV kennis gemaak het, hoe sy vir 12 jaar op die familieplaas in die Laeveld met kontantgewasse geboer het en hoe sy uiteindelik by die aangrensende Miami Canners betrokke geraak het. Sy deel haar lewensfilosofie wat spruit uit die draaie wat die lewe met haar geloop het, met die gehoor:  “Dit waarmee mens in die lewe getoets word, word uiteindelik jou getuigskrif”.

 

RSCN4262

Annes van den Eijkel(links), een van die gaste, proe hier saam met Renè Wright(middel), taksaamroeper vir Leefstyl(Tuisteskepping-afdeling) en Heloïse Erasmus, die spreker, aan die demonstrasiegeregte wat berei is.

 

Sy verduidelik van die resepte in die boekie wat elkeen ontvang het en slaan gou-gou ‘n rysgereg en ‘n piesangslaai aanmekaar deur net ‘n blikkie en ‘n flessie uit Miami Canners se wye reeks produkte oop te maak en by die gaar rys en geskilde piesangs te voeg. Hierdie Trots Suid-Afrikaanse maatskappy koop net plaaslike produkte in vir verwerking en het die produk Boeri-relish geregistreer (spesiaal vir boerewors-rolls) en is ook die markleier in die vervaardiging van piccalilli. Elke lid kry ‘n flessie van lg. om huis toe te neem.

 

RSCN4264

Daphne Loots(links), Anita Steenkamp en Carina du Toit by die flessies met piccadilli waarvan elke lid een kon neem.

 

Voorsitter Ninnie du Toit het erkenning gegee aan die taklede Daphnè Loots, Mariëtta Serdyn, Alice van Rooyen, Hermien van Zyl, Madelaine Swart en Marie Thomas wat saam met haar bygedra het daartoe dat Kleinmond-tak tydens die pas afgelope Sirkelkonferensie die trofee verower het vir die tak met die meeste punte. Madelaine Swart ontvang die trofee wat tydens Konferensie aan haar toegeken is vir die meeste punte in borduurwerk. Daar word ook kennis gegee van ‘n sirkeldag met ‘n internasionale tema wat in Meimaand aangebied gaan word by die bekende onthaalvenue Oudekraal, tussen Caledon en Napier, met Helene Truter as spreker.

 

En toe weerklink die vrolike klanke van “die troepe wat deur Waalstraat stroom”. Met begeleiding deur Frieda Maree op die kitaar en Flippie Kok op die trekklavier het twaalf dames van die gasvrougroep met hulle uitbundige passies deur die kerksaal tot op die verhoog beweeg. Die gehoor het lustig saam gesing en die bekende klanke van Kaapse liedjies het almal met ‘n glimlag hulle tee laat gaan geniet. Voorwaar ‘n middag wat jou laat besef by die VLV is altyd iets te leer, iets om te geniet, iets om saam te neem huis toe en iets om na uit te sien.

 

DSCN4254

Die vrolike sanggroep op die verhoog met Frieda Maree(kitaar)en Flippie Kok(trekklavier) voor.

 

RSCN4261 (2)

Die rangskikkingkompetisie van die maand waar gevra is vir iets uit my tuin in ‘n mandjie. Hier staan Ria Coetzee met haar wenrangskikking.