Sirkel: SWD

Tak:  Voëlvlei

Studierigting:  Openbare Sake

Beriggewer:  Elize Locke

Datum:  16 Maart 2016

 

Die dames van VLV-Voëlvlei het op Dinsdag, 15 Maart 2016, die here Piet Maree van The Haven Nagskuiling asook Adrian Kuhrns van die Mosselbaai Brandweer by hul maandelikse vergadering verwelkom.

 

In Mosselbaai, soos elders, kan duidelik onderskei word tussen die werklik haweloses en opportunistiese bedelaars wat net daarop uit is om gou ‘n paar rand te maak.  Op die dorp se strate swerf gegradueerdes, ‘n polisieman, ‘n bankbestuurder, ‘n busbestuurder, mense met probleme wat hulle van die samelewing vervreem het.  Die hawelose is ’n mens sonder heenkome, in baie gevalle ‘n mens sonder hoop.

 

Mnr Piet Maree wys daarop dat die Haven deur vennootskappe met ander diensorganisasies, sakelui en die gemeenskap oornagfasiliteite, berading en rehabilitasie beskikbaar stel aan tot 80 hawelose persone.  Die hoofoogmerk is om haweloses permanent van die strate te verwyder.  Die Haven bied programme aan om haweloses kort termyn take te laat verrig teen betaling, sodat hulle vir hul oornag en etes kan betaal.  Niemand word egter weggewys wanneer hulle om hulp aanklop sonder kontant nie.  Die lede van Voëlvlei oorhandig ‘n skenking van kos, klere en kontant aan The Haven.

 

IMG-20160316-WA0010

Piet Maree (The Haven), Johlene Muller, Alma Goeiman (The Haven)

 

Mnr Adrian Kuhrns van die Mosselbaai Brandweer het aan die dames geleentheid gegee om vrae te vra rondom die opleiding en werksaamhede van die Brandweer in die munisipale gebied.

 

Tydens die onlangse Konferensie van VLVK, Sirkel SWD, gehou te Ladismith, het die dames van Voëlvlei-tak ‘n hele paar trofeë verower.  Linzetta Smit het 1ste plek behaal vir Borduurwerk en haar aandsakkie versier met Indiese kruissteek is ook aangewys as die mees uitstaande artikel op Konferensie.  Linzetta Smit, Elmarie Engelbrecht, Kobie de Bruin en Annalene Booysen is trofeewenners in onderskeie afdelings.  Hierdie dames, asook ander inskrywings, het daartoe bygedra dat Voëlvlei-tak weereens die trofee vir die tak  met die Meeste Punte verower het.

 

TZ4A0114

Pryswenners by Konferensie 2016: LNR Jemien Smalberger, Yvonne Meyer, Elize Locke, Kobie de Bruin, Elmarie Engelbrecht, Linzetta Smit, Johlene Muller

 

Elize Pienaar het die dag afgesluit met ‘n staaltjie van “Van der Merwe”.

 

 

IMG-20160316-WA0005

Takkompetisie, versier paaskoek vir kleinkinders