Sirkel: Middelland

Beriggewer: Marlene Erasmus

Datum: 16 Maart 2016

 

Konferensie: Sirkel Middelland

Tema: Droom, Glo, Leef

Die 82ste Konferensie van Sirkel Middelland is deur Despatch aangebied by Sumcay.

 

Mev Liesel van Jaarsveld open die verrigtinge deur te lees uit Gen 1:27 en 31. Ons het almal genadegawes ontvang en ons moet dit gebruik om mekaar te dien en te bedien.

 

Mev Madelé Ferreira, SANLAM Vroue Entrepreneur 2014, het as spreker opgetree. Sy sê as God vir jou ‘n droom gee, rus Hy jou toe om dit te verwesenlik. Sy het met 5 000 aarbeiplantjies begin boer en het nou reeds by die 450 000 plantjies in netjiese rye op hul plaas en sy verskaf werk aan 70 voltydse werkers. Jy moet ook geloof  in jouself hê. Sy werk baie hard daaraan om ‘n toekoms te bou vir haar familie en ook vir haar werkers.

 

In haar Presidentsrede moedig mev Martin die lede aan om te fokus op wat hulle regtig wil hê en om te vergeet van wat jy nie wil hê nie. Konsentreer op dit wat vir jou waardevol is. Wees optimisties en glo in wat jy doen. Elke terugslag in die lewe is ‘n leerskool. Leef deur kontak te hou met familie en vriende. Gee eerder aandag aan die oomblik as om jou te bekommer oor dinge wat gebeur het of dalk sal gebeur. Droom, glo, leef is vir elkeen van ons anders.

 

Foto 1

Lynette Martin, Sirkelpresident Sirkel Middelland, Madelé Ferreira, hoofspreker by Konferensie en Pauline van Zyl, Juweelvrou 2016.

 

Ander sprekers:

Rupert Wagener en Ruan Grobbelaar van Imperium Blue Star praat oor finansiële beplanning. Hulle beklemtoon die belangrikheid daarvan om finansiële advies by kundiges te kry. Praat jaarliks met jou adviseur en maak seker dat jy nie agteruit boer nie.

 

Gawie Stols, ‘n kliniese sielkundige, praat oor kinderontwikkeling. Kinders het persoonlikheidsprobleme omdat daar ‘n tekort aan  grense, dissipline en roetine is. Ouers moet by hul kinders ‘n gevoel van vertroue en hoop skep.

 

Mev Annette Deyzel, vorige Sirkelpresident, lig die dames in oor protokol. Sy praat veral oor die korrekte aanspreekvorm, optrede teenoor Sirkel- of VLVK-president, notules, kommunikasie en die dra van kentekens.

 

Elke drie jaar kies Sirkel Middelland ‘n Juweelvrou – iemand wat ‘n buitengewone diens en bydrae in haar gemeenskap lewer – en hierdie jaar het die eer mev Pauline van Zyl van Jansenville te beurt geval. Sy dien in verskeie rade op die dorp en speel ‘n leidende rol in die verfraaiing van die dorp, die instandhouding van die museum en ook in haar gemeenskap. Sy bedank die Sirkel vir die toekenning en ook vir alles wat sy deur die jare by VLV geleer het.

 

Foto2

Pauline van Zyl, Juweelvrou 2016, Lynette Martin, Sirkelpresident Sirkel Middelland en Helen Crouse, Ere-Sirkelpresident.

 

Foto 5

Marlene Erasmus, Sekretaris Sirkel Middelland, Annete Deyzel, vorige Sirkelpresident, Madelé Ferreira, hoofspreker en Lucia Dorfling van Steytlerville.

 

Dankie Sê-toekennings is ook aan Marietjie van der Walt, Danny Grobbelaar en Suzette Schoeman oorhandig.

 

Mev Hannelie Low, Landbousaamroeper, demonstreer die maak van ‘n kokedama.

 

Mev Aneen de Jongh moedig die lede aan om stories aan hul kinders en kleinkinders te vertel. Sy demonstreer die maak van blomkranse met verskillende blom- en plantmateriale.

 

Mev Jackie Barnard vertel meer oor die gebruik van verskillende kombuistoestelle (gadgets) en hoe dit aangewend kan word om ons slaai en borde te versier voor opdiening. Die aanbieding van jou gereg is baie belangrik.

 

Mev Martin lewer verslag oor al die werksaamhede van die Sirkel gedurende 2015. Sy wens die takke geluk met al die werk wat hulle gedoen het en ook al die projekte wat hulle so suksesvol aangepak het.

 

Mev Jackie Barnard neem die prysuitdeling waar en mev Suzette Schoeman van Despatch-tak oorhandig die pryse. Die tak met die meeste punte was Alexandria, met Despatch in die 2de plek en Carpe Diem derde.

 

Sirkel Middelland het hierdie jaar die Konferensie in net een dag aangebied en almal is dit eens dat dit baie geslaagd was. Despatch het baie moeite gedoen met die versiering van die lokale, die uitstalling van die kompetisie-artikels en die heerlike maaltye en tees wat die afgevaardigdes kon geniet.

 

Elke afgevaardigde is daar weg met baie idees, aanmoediging en entoesiasme om dit wat hulle geleer het weer in hulle takke te gaan toepas.

 

Foto 3

Heidi Lombard, Lize de Jager, Annalie Lategan en Lea van der Vyfer almal van Aberdeen-tak.

 

Foto 4A

Ansie Gouws, Helette Oelofse, Marike Taljaard, almal van Jansenville en Moniques Buchner, Voorsitter van Despatch.