Sirkel: Overberg

Beriggewer: Cecile Jonkheid

Datum: 16 Maart 2016

 

Overberg hou ‘n baie geslaagde 83ste Konferensie op Kleinmond.

 

Die datum Woensdag, 16 Maart 2016, is ruim ‘n jaar gelede al in die VLV-Overberg aangeteken as die datum waarop die 83ste Sirkelfonferensie in Kleinmond gehou sou word.

 

Die hoofbestuurslede, afgevaardigdes en waarnemers van Bredasdorp, Caledon, Gansbaai, Grabouw, Hermanus, Jongensklip en Villiersdorp is by hulle aankoms  hartlik verwelkom deur die lede van Kleinmond-tak, wat reggestaan het met toebroodjies en koffie en tee vir konferensiegangers waarvan sommiges reeds  douvoordag in die pad moes val.  Die ontmoeting tussen lede van die onderskeie takke was, soos gewoonlik, baie hartlik, soos familie wat mekaar lank laas gesien het.

 

Die gasvroutak,  het moeite gedoen met die versiering van die stadsaal.  Fynbos uit die Kleinmondomgewing, kompleet met ‘n klein waterval, is kunstig aangewend om ‘n besondere groen-en-wit versierde saal te skep.  Die pragtige kompetisieblommerangskikkings en handwerk  het verder bygedra om van die dekor iets besonders te maak.

 

CJ1

Sirkelpresident Rienie Luddick

 

Die VLV-sanggroep van Kleinmond, onder die bekwame leiding van Cecile Coetzee, het hulle sangtalent ten toon gestel en die drie liedjies wat hulle gesing het, het groot byval gevind by die gehoor.

 

Sprekers tydens so ‘n geleentheid sorg altyd vir ‘n hoogtepunt en hierdie keer was geen uitsondering nie.  Droom, Glo, Leef, – dit is ook me Porchia Adams, Bemarkingsbestuurder van Agri-Expo, se lewensfilosofie en sy het uit haar eie lewe en uit haar hart met die dames gesels.  Me Adams het traumatiese situasies uit haar eie lewe gebruik om aan die gehoor te demonstreer hoe mens in sulke gevalle jou drome verloor. “Rondom jou gaan ander mense se lewens normaal voort, maar jy moet ‘n nuwe normaliteit kry, nuwe drome kry om te droom, ‘n nuwe geloof vestig om te lewe. Moenie ophou droom nie, moenie ophou glo nie, moenie ophou leef nie”, het me Adams die gehoor geïnspireer.

 

CJ2

LNR Hermien van Zyl (vorige Sirkelpresident), Ninnie du Toit (Voorsitter Kleinmond-tak), Rienie Luddick (nuwe Overbergse Sirkelpresident), Lydia Geldenhuys (Ere-sirkelpresident) by Porchia Adams van Agri-Expo, die gasspreker

 

‘n Verdere baie interessante inligtingsessie, toegelig met beeldmateriaal en brosjures oor die bewaring van pikkewyne op Dyereiland by Gansbaai, het die gehoor geboei. Cari du Preez en Pinkey Ngewe het vertel van die totstandkoming van die African Penguin & Seabird Sanctuary (APSS) in Gansbaai waar die bedreigde Afrika-pikkewyn spesifiek, en ander seevoëls wat beseer, siek of met olie besmeer is, gerehabiliteer kan word. Hulle het die lede genooi om te kom kyk hoe word daar te werk gegaan in die wêreldklasgeriewe van die sentrum, wat in 2006 opgerig is deur die Dyer Island Conservation Trust, om die seevoëls te versorg, navorsing te doen en vir groepe bewusmakingsprogramme aan te bied. Hulle het ‘n suksessyfer van 87% Afrika-pikkewyne wat verlede jaar vrygelaat is nà rehabilitasie.

 

Raadslid Lisel Krige het in die afwesigheid van die burgemeester, die groete van die Overstrand Munisipaliteit oorgedra, en die VLV-lede aangemoedig om betrokke te raak by jeugprojekte in hulle omgewing waardeur daar aan uitsiglose jongmense drome en hoop gegee kan word, want hoop is lewe.

 

Die oorhandiging van die tofeë is altyd die spesiale geleentheid van die dag  en gelukwensinge gaan aan al die ontvangers. ‘n Spesiale gelukwensing gaan aan Villiersdorp vir die ontvangs van die Presidentsbeker en Kleinmond vir die verwerwing van die trofee vir die meeste punte behaal in alle konferensie-artikels.  Kleinmond se voorsitter, Ninnie du Toit, het haarself reeds as ‘n gedugte mededinger bewys en sy het die Christie Groenewald trofee ontvang vir die lid wat die meeste punte vir deelname aan kompetisies behaal het.

 

Ten slotte gaan die Overberg-lede se opregte gelukwensinge aan Sirkelpresident Rienie Luddick vir ‘n uiters geslaagde eerste konferensie tydens haar ampstermyn.  Die dames wil haar verseker dat hulle, soos sy haar ook uitgespreek het, trots is op Sirkel Overberg en uitsien na die aktiwiteite gedurende die res van die jaar.

 

CJ3

Johlene Viljoen, Voorsitter van Villiersdorp en Ninnie du Toit, Voorsitter van Kleinmond