Sirkel: Paarl

Tak: Slot-van-die-Paarl

Portefeulje: Leefstyl

Beriggewer: Annalise Loubser

Datum: 15 Maart 2016

 

IMG_3143 - Copy

Christine Vandenreede (spreker), Alice Swanepoel (sekretaris) en Louna Spies (gasvrou)

 

Slot-van-die-Paarl se dames is op ‘n “lewensreis” geneem deur Christine Vandenreede, ‘n voedseltegnoloog, wat as kind in die veld aan die hand van haar vader van chemie geleer het. Hy het ‘n sekere bossie, wat haar hand pers gekleur het, oor haar hand gevryf en toe met ‘n suring daarop geskryf. Die verkleuring het haar so getref dat sy later jare meer wou weet. Haar oupa het Suikerbekkie (‘n kosfabriek) begin wat haar nog meer blootgestel het aan koswetenskap.

 

Voedseltegnologie is die studie van die veilige vervaardiging van voedsel. Chemie, biochemie en mikrobiologie span saam om voedsel voedsamer, veiliger en lekkerder te maak.

 

Daar is 3 kategorieë: a) voedselproduksie, b) kwaliteitsbeheer, c) navorsing en ontwikkeling. Dit is in laasgenoemde veld wat sy werk. Sedert ruimtereise is tegnologie baie verbeter wat voeselvoorbereiding ‘n hupstoot gegee het.

 

Die dames hoor hoe sy nuwe produkte ontwikkel en besighede help wat hulle eie produkte ontwikkel om in grootmaat te produseer. Mense gaan terug na meer natuurlike produkte. Nuwe tegnologie is bv. om sap in botteltjies met ultraklank te behandel om ensieme en mikro-organismes te vernietig i.p.v. chemiese preserveermiddels te gebruik; dit hoef dan nie in ‘n yskas gebêre te word nie. In sekere slaaisouse word bv. roosmarynekstrak gegooi om te keer dat dit galsterig raak i.p.v. chemiese anti-oksidante. Melk kan deur ‘n sentrifugeringproses gaan en dit verhoog sy rakleeftyd. So word voedselwetenskap en ingenieurswese saam ingespan.

 

Wenke om leefstyl te verbeter:

  • Maak gesonder keuses deur die etikette te lees bv. kalsium- of kaliumbensoaat brand jou keel agter-in.
  • Koop meer vars produkte.
  • Verminder stres en oefen gereeld.
  • Geniet ‘n goeie ontbyt met proteïne.
  • Kry ‘n stokperdjie!

 

Op die koop toe, leer die dames meer oor die Zika-virus wat deur ‘n Aedes muskiet oorgedra word. Dit is veral akuut in Brazilië. Die simptome is ligte koors, veluitslag en gewrigspyn. Die simptome duur gewoonlik 2 tot 7 dae. Baie mense is nie bewus dat hulle siek is nie en niemand is nog dood van die virus nie. Daar is geen spesiale behandeling of inenting teen die virus nie. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het aangekondig dat daar ‘n verband is tussen die Zika-virus en Mikrokefalie (‘n baba wat met ‘n buitengewoon klein kop en brein gebore word). Daar is egter geen rede vir paniek vir die gemiddelde Suid-Afrikaner nie.

 

Soos altyd word die vergadering afgesluit met heerlike verversings en gaan die lede opnuut meer ingelig huis toe!

 

IMG_3135

Teetafel