Sirkel: Namakwaland

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 14 – 15 Maart 2016

 

Droom, Glo en Leef!

 

Van kindsbeen af word ons aangemoedig om groot te droom.  Maar die realiteit tree gewoonlik later jare in en in die gejaag om net elke dag te oorleef, versmoor jeugdrome gou.  Dis dán wanneer ‘n mens mismoedig, afgemat en selfs later depressief raak en die eerste wat op die agtergrond geskuif word, is daardie eendag-sal-ek-nog-droom.  Soms om nooit weer uit te haal om te bereik, voor dit te laat is nie.

 

Maar om die mens te wees, wie jy bestem is om te wees, is dit belangrik om jou drome jou prioriteit te maak, te glo dat jy goed genoeg is daarvoor en om dan die moed te hê om dit uit te leef.  Ons samelewing smag hierna!

 

IMG_4765

Sirkel Namakwaland: Afgevaardigdes van regoor Namakwaland byeen tydens Sirkel Namakwaland se VLVK-Konferensie

 

Tydens Sirkel Namakwaland se 79ste Sirkelkonferensie te Vredendal, was dit dan ook van die staanspoor af duidelik, dat die VLV-vroue vanjaar vlerke gaan gee aan hul drome.

 

Ds Jan-Hendrik Kleinhans voeg ‘n ekstra fokus by hierdie tema:  Om te SIEN.  Hy gebruik vir Petrus, wat vir Jesus as Verlosser kon sien, selfs in die gesig van dood, trauma (Matt 16:13).  As jy toelaat dat Jesus jou oë ook oopmaak om Hom te sien, sal jy nie anders kan as om ‘n verskil te maak in jou gesin en die mense rondom jou nie.

 

In haar presidentsrede, het me Heidi van Niekerk die storie vertel van ‘n arend wat saam met ‘n spulletjie hoenders groot geword het.  Elke keer as hy die pragtige arende daar bo in die lug sien sweef het, het hy gewens hy kon soos hulle wees.  Maar dan het die anders hoenders net vir hom gelag en gesê hy sal nooit tot daar kan kom nie.  Tot die dag wat hy, soos wat sy natuur bepaal, sy vlerke gesprei het en saam met die arende gaan vlieg het.  “Don’t let some chicken tell you you can’t fly!”

 

IMG_4476

Sirkel Namakwaland se nuwe Sirkelpresident, me Heidi van Niekerk, het haar uitstekend van haar taak gekwyt met die aanbieding van die pas afgelope Sirkelkonferensie.  Haar passie vir VLV is voelbaar en haar groot droom is, om eersdaags die tegnologie te omarm en werklik deel te maak van ons organisasie.

 

Op jou eie is jou drome of idees niks werd nie.  As jy egter iets daadwerkliks daaraan doen, kry jou droom krag.  Die enigste dinge wat ons keer om ons drome voluit te leef, is die gemaksones waarin ons verval, vorige mislukkings, vrees vir ander se opinies en die gebrek aan passie.  Enigiets kan waar word, solank jy daaraan glo, solank jy bereid is om anders te wees, solank jy bereid is om jou Godgegewe talent te gebruik om dit te bereik.  Waarvoor wag jy???

 

Iemand wat geen tekort aan passie het nie, is me Engela Adriaanse.  Tydens die Opvoeding & Kultuur-afdeling, het sy gedeel wat haar ná aan die hart lê.  Sy help kinders om te lees, want sy sê:  “As jy nie kan lees nie, kan jy nie leer nie”.  Kinders sukkel deesdae elke dag met ‘n rits leerprobleme a.g.v. leesprobleme.  Die tegnologie waarmee hulle grootword en wat hul verwysingsraamwerk is, loop nie hand aan hand met akademie nie.  En dan gebeur die hartseer ding:  jou kind word eenkant toe geskuif en kry die etiket om sy nek – ek is dom!  Indien ‘n kind van jongs af geleer word om reg te lees, sal ‘n legio probleme voorkom of uitgeskakel word.  Slegs 48% van hoërskoolleerders lees op ‘n internasionaal aanvaarbare manier.  Hoekom?  Want ‘n onderwyser kan van jongs af slegs ‘n kind leer lees, maar die liefde daarvoor moet by die huis gekweek word.  Bêre weg die tablet, skakel af die rekenaar of televisie en lees vir en saam met jou kind rympies, gediggies, stóries!!!

 

Is daar iemand wat nog nié gehoor het hoe sleg suiker vir jou is nie?  Dis haas ondenkbaar, want met die tegnologie aan die punte van ons vingers en ál meer mense wat begin besef hoe belangrik dit is om verantwoordelikheid te neem vir jou liggaam, is dit ‘n brandende kwessie op almal se lippe.  Toegegee, nie een wat ‘n mens altyd wil hoor nie.  Want ons lewe in ‘n samelewing wêreldwyd, waarin vetsug en leefstyl-siektes hoogty vier.  En vir die meeste daarvan is suiker die sondebok.  Me Sanet Ras, het tydens die Gesondheid-portefeuljegleuf die gevare van suiker in ons dieët uitgelig.  Navorsing het bevind, dat suiker nét so nadelig vir jou kan wees soos kokaïen en tabak.  Alhoewel suiker die liggaam se brandstof is en ons dit wel benodig, neem ons eenvoudig te veel daarvan in.  Suiker word deesdae by byna alles gevoeg.  Die ekstra suiker gaan reguit lewer toe, waar dit in vet omgesit word.  Inflammasie ontstaan, wat lei tot artritis en kanker en jou liggaam gaan stelselmatig agteruit.  Neem vandag die besluit:  Bemagtig jouself, identifiseer verskuilde suikers, lees produkte se etikette, leer die verskillende vorms van suiker ken, stabiliseer jou bloedsuiker met veselryke kos en proteïne, vermy versoete drankies en die belangrikste:  Byt vas, dit ráák makliker!!

 

Dit gons gereeld nog oor die nuwe regulasies vir volwassenes wat met minderjarige kinders wil reis na en van die buiteland.  Weet ons wat dit behels, of raak dit jou net wanneer julle moet reis?  Me Suzanne Visagie, van XL Boland Travel op Vredendal, het verduidelik wat ouers te doen staan wat beplan om die buiteland te besoek.  Die eerste is om te sorg dat jou kind(ers) die volledige, goedgekeurde geboortesertifikaat besit.  Babas wat in die afgelope jare gebore is, het dit heel waarskynlik so ontvang van die Departement van Binnelandse Sake, maar indien jou kind al ouer is, is die kans goed dat sy geboortesertifikaat nie aan die voorwaardes gaan voldoen nie.  Beplan vroegtydig en sorg dat al die dokumente in orde kom, want ‘n eenvoudige glips kan jul hele toer deurmekaar krap.  Die heel maklikste:  kry professionele raad en hulp en haal die kopseer uit beplanning.

 

Die gasspreker vir die geleentheid was me Mariëtta van Rooyen, onderwyseres by Hoërskool Calvinia.  Haar boodskap was kosbaar:  Die droom wat jy koester het inspirasie nodig – mense, boeke, die internet, artikels.  Jou droom bly net ‘n droom as jy dit nie vlerke gee om te vlieg nie.  Daar is geen beperking op die grootte van jou droom nie, solank jy dit net laat leef.  Drome kán van rigting verander…soos die lewe ook verander.  Moet egter nie net nee sê, omdat dit die maklikste uitweg is nie!  Niks wat die moeite werd is, gaan maklik kom nie.  Hou op uitstel!  Now is as good a time as ANY.  Omring jou met mense wat glo in jou droom.

 

IMG_4749

Me Mariëtta van Rooyen, onderwyseres by Hoërskool Calvinia, was die gasspreker tydens Sirkel Namakwaland se Konferensie.  Sy het ‘n inspirerende boodskap gelewer en elke dame teenwoordig geïnspireer om haar droom haar passie te maak en dit waar te maak.

 

Laat ons ons kinders nog toe om te droom?  Help jou kind om sy drome in realiteit om te sit, maar onthou die fyn lyn:  Jou kind se droom gaan nie noodwendig jou droom vir hom wees nie!  Moet ook nie in die strik trap deur jóú ongeleefde drome deur jou kind te probeer leef nie.  Dis nie regverdig teenoor jou kind nie.

Drome hou die belofte van ewige jeug, dit voed die innerlike kind.  If you lose your dream, you die.  Hou op om jouself terug te hou.

En onthou:  ‘n Droom is ‘n voorstelling wat gegrond moet word op geloof.  Hê ‘n vaste geloof in jou droom, dan is jy reeds halfpad daar.

Droom onbeperk, vreesloos, PASSIEVOL!!

 

IMG_4840

Trofeëwenners- Eerste vier plekke: Loeriesfontein VLV het vanjaar weer met die louere weggestap, deur die trofee vir die tak met die meeste punte te verower.  Tweede plek het gegaan aan Lutzville VLV, derde aan Nieuwoudtville VLV en die vierde plek gaan aan Hantam VLV.

LNR Adolene Nel, Hantam, Erika Kotze, Nieuwoudtville, Joretha de Waal, Lutzville en Sarina Schade Loeriesfontein

 

IMG_4854

Nuwe beoordelaars ingelyf: Sirkel Namakwaland spog deesdae daarmee dat ons die meeste beoordelaars het in die Huisvlyt- en Handwerk-afdelings.  Tydens die pas afgelope Sirkelkonferensie, is hierdie beoordelaars se kennis en vernuf behoorlik op die toets gestel.  Elkeen moes hul eerste beoordeling behartig, onder toesig van mee Elizabeth Cloete en Henriëtte Smit, wat ook die eksaminatrises was.

LNR Lehana Nel, Danelia Louw, Karin van der Merwe, Emjee Louw, Adolene Nel, Gloudine Schade, Sanet Ras en Janine Brynard

 

IMG_4729

Dankie! Me Janine Brynard bedank vir mee Elizabeth Cloete en Henriëtte Smit vir hul jare-lange ondersteuning en opofferinge as hoofbeoordelaars tydens die Sirkelkonferensies.  Hulle het ook oor die verloop van 4 jaar die nuwe beoordelaars opgelei, sodat Namakwaland voortaan geen tekort aan kundigheid op die gebied van beoordeling mag hê nie.  Dankie!!