Sirkel: Noord Oos-Kaap
Tak: Dordrecht
Beriggewer: Marieka Bekker
Datum: 12 Maart 2016

 

“Droom, glo, leef” was vanjaar se tema by die NOK se Konferensie te Dordrecht NG Kerksaal op 12 Maart. Dordrecht het gevra dat alle lede soos die 1933 depressievrou moes aantrek met ‘n kappie, voorskoot, toeskoene en kouse. Dit was ‘n mooi gesig om te sien hoe al die lede entoesiasties deelgeneem het en lekker saam gelag het. Die saal en voorportaal was pragtig opgemaak en die etes was voortreflik! Alles regte boerekos wat regte tuisgemaakte plaasbotter, gemmerbier en lamspastei ingesluit het – voorgesit in outydse erdebakke.

 

foto 1

Dordrecht NG Kerksaal se voorportaal opgemaak deur Lynette Pelser van Dordrecht-tak

 

Die dames wat die dag bywoon moes maar gebuk gaan onder Dordrecht se waterkrisis en die 2liter waterbottels het rye gestaan voor die badkamerdeure! Gelukkig was die VLV-lede vol pret en het niemand te veel gekla oor die omstandighede nie.

 

Die Sirkelpresident, Antoinette van Pletzen, het die dag se verrigtinge geopen. Christie Campher van Dordrecht-tak het ‘n skriflesing en gebed gedoen, waarná  Ds. Conrad Thomas van Elliot oor die VLV-tema “Droom, Glo en Leef” gepraat het. Ds. Thomas sê mense droom al van kleintyd af; byvoorbeeld vroue droom oor hul troudag of dalk hul huis en kinders eendag. Manne droom weer oor om ‘n goeie werk te hê om sodoende vir hul gesinne te kan sorg of om vir die Springbokspan te kan rugby speel.  Dis belangrik om na iemand te luister, want sodoende erken en respekteer jy iemand. Maar wie van ons droom nog oor wat ons wil uitleef? Dit is bewys hoe ouer ons word, hoe minder droom ons. Mense droom groot as hulle klein is. Wanneer jy ophou glo, verdwyn jou drome en dan leef jy nie voluit nie. Jy moet jouself aanvaar soos wat die Here jou gemaak het. Fil: 4:8 sê jy moet jou gedagtes reinig. “Happiness is a state of mind”.  Ons het nie altyd ‘n keuse wat met ons in die lewe gebeur nie, maar ons het nog steeds ‘n keuse hoe ons lewe. Wat jy glo, sal jy word. Vul jou lewe met positiwiteit. Om jou droom te realiseer moet jy seker maak dat dit jou eie droom is en ook realisties is. Dit vat harde werk en deursettingsvermoë. Leef jou eie lewe.

 

Die drie Vriendskapskerse is aangesteek vir Sirkel NOK, die Tak Dordrecht en die land wat die jaar bestudeer word, nl. Nederland. Die twee dankie sê-persone dié jaar is Lenie Fourie en Gerhard Schmidt. Dordrecht-tak het dié twee persone uit die gemeenskap gekies omdat hulle reeds jare lank die VLV ondersteun en ook in die dorp baie vir die gemeenskap beteken. Liezl Stier, VLV-lid van Molteno-tak,  is hierdie jaar se Mossie Grobler beurswenner. Dis die eerste keer dat ‘n NOK-lid die beurs wen, en nie ‘n kind van ‘n lid nie!

 

foto2

Liezl Stier, Mossie Grobler beurswenner, by Antoinette van Pletzen, NOK-Sirkelpresident

 

Mev. Ina Bekker van Ugie, Sirkelsaamroeper vir Gesondheid, het ‘n interessante praatjie oor inkontinensie gelewer. Sy het genoem dat dit uiters belangrik is om baie water te drink en nie te lank te knyp nie. ‘n Gesonde persoon behoort elk 2-3 ure ‘n draai te loop en dan dadelik weer water te drink. Twee liter skoon water ‘n dag is baie nodig vir jou liggaam om reg te funksioneer.

 

Elke afgevaardigde en dagbesoeker het ‘n hele paar oulike geskenke vanaf Dordrecht-tak ontvang.  Die boom van die jaar aard nie in Dordrecht nie, en die Sirkel moes improviseer met die geskenkboom aan die gasvroutak! Sirkel NOK se Landbousaamroeper, Lenie Fourie, het toe ‘n perskeboom aan Memory Bradfield wat ‘n lid van die Dordrecht-tak is, oorhandig. Sterkstroom se VLV-tak word vanjaar 80 jaar oud en elkeen van die ander takke het hulle gelukgewens en ‘n verjaardagkaartjie oorhandig. Antoinette van Pletzen van Jamestown het haar 35 jaar–kenteken ontvang.

 

Die kompetisie-afdeling was sterk en die saal se tafels het gekreun onder al die mooi inskrywings en blommerangskikkings! Die algehele wenner was tak Lady Grey met Dordrecht in die tweede plek en Ugie derde.

 

Die Leefstyltrofee vir die mees uitstaande artikel is aan Marieka Bekker van Dordrecht vir haar stokkielekkers oorhandig. Tersia Cock van Lady Grey het die Kunste & Handvlyttrofee verower vir haar blomkrans van papierpulp. Landbou se trofee is aan Isabel du Toit, ook van Lady Grey,  oorhandig vir haar uitstaande versierde skopgraaf. Marlene Lategan van Jamestown het die trofee vir haar blommerangskikking ontvang.

 

Die dag is afgesluit met die sing van die die VLVK-lied en die Internasionale Gebed. Nadat die VLVK- en Landsvlag uitgedra is, kon almal verversings geniet vóór die pad huis toe aangepak is.

 

foto3

Tak afgevaardigdes

 

foto4

Tak afgevaardigdes