Sirkel: Tygerberg

Tak: Stellenberg Vonkelvriendinne
Beriggewer: Caro Ekermans, Sirkelpresident Tygerberg, Taksekretaris Stellenberg Vonkelvriendinne
Datum: 10 Maart 2016

 
By die pas afgelope Konferensie van Sirkel Tygerberg, in die N.G. Kerksaal Bellville Vallei, het Stellenberg Vonkelvriendinne, wat die konferensie aangebied het, ook hulle 40ste bestaansjaar gevier.

 

Die geleentheid is bygewoon deur al ses Stellenberg se voorsitters, vanaf 1976 tot 2016.

 

voorsitters 2016

Stellenberg se ses voorsitters sedert 1976. LNR. Gerna Conradie, Marie Toerien, Annatjie Smit (stigtingsvoorsitter) Leonore Ward (huidige Voorsitter) Caro Ekermans ( 2de Voorsitter, Sirkelpresident en Leonore se ma) en Elza Eksteen

 

Die Vonkelvriendinne was almal uitgevat in pikswart, met robynrooi stringe krale ter viering van hul robynverjaardag en het baie stylvol vertoon.

 

Die trofeë is uitgedeel deur Martie Jordaan, Sirkel Tygerberg se oudste beoordelaar en ‘n lid van Stellenberg Vonkelvriendinne.

 

Hoewel die tak net 33 lede sterk is, het hulle nie op hulle laat wag nie en derde in die groottotaal geëindig. Eerste plekke is behaal in Hekelwerk (Martie Jordaan), Landbou, Woordkuns en Fotografie (al 3 Elfrieda Auret.)
Martie Jordaan was ook 2de met Kunsnaaldwerk en Sandra Delport 2de met haar uiemarmelade, terwyl Kobie Kotze derde was met haar suurlemoenstroop.

 

Kunstetrofee 2016
Tannie Martie Jordaan, beoordelaar, en Leonore Ward, Voorsitter van Stellenberg

 

Elfrieda Auret het die trofee vir die individuele lid met die meeste punte gewen.

 

Die tak het die trofee vir die hoogste punte in Preservering met 2 ander takke moes deel en het die meeste punte in die afdeling Kunste en Handvlyt behaal.

 

By hierdie geleentheid het die tak erelidmaatskap toegeken aan tannie Henna Uys, wat al baie jare lid is en ons tot onlangs nog op konferensie verteenwoordig het met haar hekelwerk en blommekuns.

 

Henna 2016
Leonore Ward oorhandig die sertifikaat van erelidmaatskap aan tannie Henna Uys

 

Daar is maande lank voorberei vir hierdie konferensie en lede het hard gewerk om alles so goed moontlik te laat vertoon en oulike geskenke te kon uitdeel. Die werkers by die saal was nie ‘n menigte nie, want Stellenberg Vonkelvriendinne is ‘n aandtak en meer as die helfte van die lede werk voltyds, voorsitter inkluis. Daar is vooraf en by vergaderings geswoeg en almal was doodtevrede en baie trots op wat ons vermag het.

 

Werkers 2016

Die werkers van Stellenberg in hulle swart en rooi.