Sirkel: Middelland

Tak: Aberdeen

Portefeulje: Leefstyl en Gesondheid

Beriggewer: Lea van der Vyver

Datum: 9 Maart 2016

 

Op 9 Maart 2016 vergader Aberdeen VLV by die Aberdeen Self Catering gastehuis op die dorp.  Die opening word gedoen deur Lea van der Vyver wat vra hoe ons moet leef in ‘n wêreld wat ons daagliks bombardeer met negatiewe gebeure en sensasie wat ons swartgallig kan laat.  Sy vertel dat die Bybel uitspel wat God van ons verwag en lees voor uit Romeine 12. In opsomming verwag die Here van ons om ons unieke gawes uit te leef, te volhard in gebed en nie kwaad met kwaad te vergeld nie.  Ons moet glo dat Hy altyd in beheer is en Sy liefde aan alle mense uitleef.

 

Aberdeen VLV bied op Woensdag 14 September 2016 ‘n Intertak Vrouedag in die Aberdeen NG Kerksaal aan. Die vergadering in Februarie is hoofsaaklik gewy aan die beplanning van dié dag.  Terugvoer van lede omtrent die verskillende aspekte wat gereël word, word deurgegee.  Die tema van die dag is “Leef!” en ander VLV-takke, sowel as vroue van Aberdeen en omliggende dorpe, sal genooi word.  Daar word gepoog om die plaaslike omgewing en sy mense te bemark.  Persone wat artikels en produkte het wat hulle tydens die Vrouedag wil uitstal en verkoop, kan Lea van der Vyver ([email protected]) of enige VLV-lid kontak.

 

Jurgens Strydom, eienaar van Aberdeen Self Catering, doen ‘n aanbieding oor argitektuur en hoe mense se drome in realiteit omskep word. Hy lig die beperkings en regulasies waarbinne ‘n argitek moet ontwerp uit en wys ook van die huise wat hy al ontwerp en geteken het.  Daarna wys hy voor en na foto’s van die gastehuis en hoe hy dit omskep het van bouvallige huise tot ‘n oase met lieflike leefareas waar gaste gesellig kan kuier.  Hy is tans besig om ‘n kampeerterrein vir tente in te rig.

 

Foto 1 Voor  Foto 2 Na

Aberdeen Self Catering voor en na opknapping van kuierarea

 

Jurgens was ook in die mediese fonds bedryf werksaam en doen ‘n aanbieding waar hy die belangrike aspekte rondom mediese fondse en die keuse van ‘n spesifieke fonds en opsie uitlig. Lede kry die geleentheid om vrae stel.

 

Foto 4 Lea en Jurgens

Lea van der Vyver en Jurgens Strydom

 

Die gelukkige trekking van die dag word gewen deur Suzanne Lategan.  Twee lede, Lize de Jager en Anchen van Schalkwyk, verjaar die maand en ontvang elk ‘n geskenkie.  Lede bring almal oortollige skryfbehoeftes en ou tydskrifte wat aan Aberdeen Laerskool oorhandig sal word.

 

Foto 3 Lede

LNR Bronwyn Grobbelaar, Suzanne Lategan, Annalie Lategan, Emmelyn van Zanten, Lize de Jager, Stephnie van Zyl en Lea van der Vyver