Sirkel: Noordwes-Kaap

Beriggewer: Erika Lubbe

Datum: 9 Maart 2016

 

Die 83ste Konferensie van Sirkel Noordwes-Kaap en die 86ste verjaarsdag van VLV-Marydale is op luisterryke wyse in die kerksaal van die pragtige, klein, plattelandse dorpie, Marydale, gevier.

 

Windpompe eie aan die omgewing

Die kerksaal is versier met windpompe eie aan die omgewing

 

Witgatbome eie aan die omgewing

’n Witgatboom eie aan die omgewing versier die ingang van die kerksaal

 

Afgevaardigdes v.l.n.r. Bertus Coetzee, Hendriena Klindt, Jackie van den Heever

Konferensie afgevaardigdes v.l.n.r. Bertus Coetzee, Hendriena Klindt, Jackie van den Heever

 

Die amptelike openingspreker: VLVK-president, mev. Karien van Schalkwyk, het die VLVK-tema: Droom, Glo, Leef aangespreek en het o.a. die woorde van mej. Wêreld, Rolene Strauss, aangehaal: “Ek glo daar is ’n droom in elkeen se hart geplant en daar is daagliks geleenthede om dit uit te leef – ons werk is om dit net raak te sien!”

 

VLVK-president, Karien van Schalkwyk, aan die woord

VLVK-president, Karien van Schalkwyk, aan die woord

 

Sirkelpresident: mev. Wilna Nel, noem in haar presidentsrede dat die kwaliteit van ons lewe deur ons visie bepaal word en ook die moeite en opofferinge wat ons moet doen om dit te verwesenlik. Wanneer ’n mens by die deur van ’n geleentheid kom, moet ’n mens nie klop nie, maar wel stoot! As jou kop reg is, word die onmoontlike vir jou moontlik!

 

Sirkelpresident, Wilna Nel, lewer haar presidentsrede

 

Sirkelpresident, Wilna Nel, lewer haar presidentsrede

 

Sirkelsaamroeper van Openbare Sake: mev. Jean du Randt, noem verskeie voorbeelde waarmee sy entrepreneurskap aanmoedig deur o.a. die maak van interessante begrafniskranse van leë eierdosies. Verf dit verskillende kleure en verkoop dit:

  • Veral op die plaas/platteland is begrafniskranse ’n skaars item.
  • Dit dien as ekstra inkomste en kan ’n winsgewende besigheid word.
  • Dit is ook osoonvriendelik.

 

Mev. Du Randt het ook kosbare wenke vir selfverdediging gegee deur die gebruik van ’n mens se oop plat hand, jou hoëhakskoene, jou naels en selfs jou braaipan. Sy het ook die belangrikheid van waterbesparing beklemtoon deur die gebruik van o.a. die eertydse reënwatertenk aan te moedig, swakstroom stortkoppe en krane wat nie mag drup nie.

 

Sirkelsaamroeper van Gesondheid: Retha Compion, se onderwerp was: Moderne Tandheelkunde. Voorkomende tandheelkunde en gereelde besoeke aan die tandarts kan verseker dat ’n mens met al jou tande en ook gesonde tande in jou mond kan oud word.

 

Mev. Compion het die siektetoestand, Alopecia (die verlies van al die hare op jou liggaam ten spyte van ’n andersins gesonde liggaam), bespreek.

 

Sirkelsaamroeper van Kunste en Handvlyt: mev. Mariaan Goosen, het ’n tuisgemaakte olielamp m.b.v. ’n ou versierde/geverfde wynbottel, gewone tou deur die prop van die bottel (wat as pit diens doen) en paraffien demonstreer.

 

Mev. Esmé du Toit, Voorsitter van VLV Marydale en Sirkelsaamroeper van Opvoeding en Kultuur: het ’n Spellethon, eie Kultuur en ander Kultuur behandel.

  • ’n Spellethon is deesdae baie gewild. Die deelnemers/kinders kry ’n lys van woorde wat hulle moet leer spel. Tydens die kompetisie word daar aan elke deelnemer ’n woord gevra. Spel hy dit reg, mag hy weer ’n woord kry om te spel. Spel hy dit verkeerd, is hy uit. So hou dit aan totdat daar slegs een kind oorbly wat dan outomaties die wenner is.
  • Die Afrikaanse Volksgeloof: Volksgeloof en geloof is nie dieselfde ding nie. Geloof verwys na kerkgeloof, terwyl volksgeloof op die nie-amptelike deel daarvan betrekking het. In die volksgeloof word geeste ingedeel volgens die 4 sogenaamde elemente: vuur-, lug-, water- en aardgeeste. Veral bygelowe soos o.a.: as ’n duisendpoot jou byt, sal jy jou doodlag en as ’n skilpad jou natmaak, sal jy net so groot bly soos jy op daardie stadium is, het die lagspiere deeglik geprikkel. Mev. Du Toit het ons ook aangemoedig om vir ons kinders:
  • ons volksliedjies aan te leer, omdat hulle dit glad nie ken nie;
  • legkaarte te laat pak, omdat dit die kind leer konsentreer; dit driedimensionele insig gee; die kind leer om ’n taak af te handel en om wiskundeformules maklik te kan ontsyfer.
  • inkleurboeke te laat gebruik, want dit help om stres, skuldgevoelens en vrees te verwerk en ook die kind te kalmeer.
  • Monumente: Mev. Du Toit het konferensiegangers ook aangemoedig om ons kinders die betekenis van ons monumente te vertel, bv. wie die persoon is en die gebeurtenis wat aanleiding gegee het tot die oprigting van die monument.
  • Ander kulture: Sy moedig die aanleer van die taal, Mandaryns, aan, omdat China die wêreldmark begin oorheers en dit ’n universele taal gaan word wat baie moontlikhede gaan bied.

 

Sirkelsaamroeper van Landbou: mev. Christa Lochner, het ’n baie interessante uitstappie na die reuse katoenmeule van die Maree-familie op hul plaas buite Marydale gereël. Daar het Johan en Willie Maree ons deur hul katoenpluismeule geneem. Hulle was die tweede privaat katoenpluismeule in die land en tans is dit net hulle en GWK waarvan hulle ook ’n groot persentasie katoen pluis; ’n kort DVD oor die werksaamhede in die katoenpluismeule is vertoon en daarna is ’n katoenplukker demonstreer waarna daar heerlik feesgevier en geëet is aan huis van die Marees. Die verjaarsdagkoek is gesny; ’n heildronk is ingestel op die twee herdenkings; die plaaslike skooltjie, Oranje Akademie, het drie baie oulike nommers gelewer en toe het die lede tot laat heerlik gelag en gekuier.

 

Sirkelbestuur Sirkel Noordwes-Kaap

Die Sirkelbestuur Sirkel Noordwes-Kaap VOOR v.l.n.r.: Mevv. Elize de Jager, Sirkelsaamroeper Leefstyl; Wilna Nel, Sirkelpresident; Corrie Liebenberg, Visesirkelpresident; Erika Lubbe, vorige VLVK-president

AGTER v.l.n.r.: Mevv.: Esme du Toit, Gasvrou en Sirkelsaamroeper Opvoeding en Kultuur; Christa Lochner, Sirkelsaamroeper Landbou en Tuinbou; Mieke Bezuidenhoudt, Sirkeltesourier; Elmarie van Niekerk, Hulpleefstyl Sirkelsaamroeper; Jean du Randt, Sirkelsaamroeper Openbare Sake; Retha Compion, Sirkelsekretaris; Mariaan Goosen, Sirkelsaamroeper Kunste en Handvlyt

 

Verjaarsdagkoek gebak deur Corrie Liebenberg, Voorsitter Prieska en Visesirkelpresident

Verjaarsdagkoek gebak deur Corrie Liebenberg, Voorsitter VLV Prieska en Visesirkelpresident Sirkel NWK en Wilna Nel, Sirkelpresident, sny die verjaarsdagkoek.

 

Dit was voorwaar ’n onvergeetlike Konferensie waar konferensiegangers bemagtig is en met baie pitkos en motivering huis toe kon gaan!

 

Uitstappie na die kantoenpluismeule

Uitstappie na die kantoenpluismeule