Sirkel: Tygerberg

Tak: Brackenfell

Portefeulje: Opvoeding & Kultuur

Beriggewer: Lettie van Wyk

Datum:  3 Maart 2016

 

IMG_2009

Riana Ellis (Sekretaris) Mollie Craven (Sameroeper Opvoeding en Kultuur) en Elba van der Merwe (Visevoorsitter) staan agter, met May Huisamen sittende

 

Mev. May Huisamen, een van Sirkel Tygerberg se lede en ‘n berese en belese dame, het vir Brackenfell-lede kom vertel van haar 4 reise deur Italië. Wat ‘n wonderlike ondervinding om deur haar oë en woorde hierdie reise te kon meemaak! Ek lig net ‘n paar interessante feite uit.

 

Italië is ‘n land wat bekend is as “Beautiful Country” of die SKOEN.   Die ryke kultuur, geskiedenis, murasies en natuurskoon is asemrowend. Italë beteken  “Land van Jong Beeste”.

 

Die land is verdeel in 20 streke, waarvan 5 outonoom is. Die amptelike taal is Italiaans met verskeie dialekte, maar daar is ook streke waar Frans en Sloweens gepraat word. Die belangrikste godsdiens is Rooms Katoliek, sowat 90%, met Protestante, Jode en nou ‘n vinnig groeiende Moslem-immigrasie, wat die ander 10% vorm.

 

Daar is groot klimaatwisseling van noord na suid, bv. bewolk en vriesend koud in Milaan, gedeeltelik bewolk in Rome en sonnig en warm in Polermo. April en Mei is ‘n goeie tyd om Italië te besoek.   Vele restaurante en winkels is toe in Augustus, wanneer baie Italianers vakansie neem.

 

Italië het nie minder as 44 Unesco-Wêrelderfenisgebiede nie, die meeste van enige land ter wêreld. Rome, Venesië en Florence word “Cities of Art” genoem. Milaan huisves die grootste en mees moderne handelskoue.

 

Die Italianers drink baie koffie, omtrent 600 koppies per kop per jaar!

 

IMG_2007

May ernstig aan die beduie

 

‘n Vyfde van die Italiaanse bevolking is ouer as 65 jaar.  Italië se geboortesyfer is die laagste ter wêreld.

 

Die padreëls in Italië is gemaak om gebreek te word – die verkeer is baie erger as in Suid-Afrika! Goeie advies was:  “Just walk and pray!”

Dis ‘n goeie plan om ‘n 24uur pas in Rome te koop vir die “Open Top Bus”. In die oggend doen die bus een roete en in die middag ‘n ander roete. Elke roete duur omtrent 4 ure elk. Jy kan op- en afklim soos jy wil en elke 20 minute is daar weer ‘n bus om jou verder te neem.

 

Mev. Huisamen het ons kleurvol van al die besienswaardighede in Rome vertel, o.a. die Vatikaan, die Spanish Steps, Trevi Fontein, ens. Napels met sy 44 historiese kerke en die tuiste van pizza, koffie en Limoncello (suurlemoenlikeur) is ‘n besoek werd.

 

Pompeii, wat in 79NC onder brandende puimsteen en as begrawe is na ‘n vulkaniese uitbarsting van Mt. Vesuvius,  laat die trane loop.  Hierdie is ‘n Unesco-Wêrelderfenisgebied. Uitgrawings het in 1749 begin. Pleister word tydens uitgrawing in die geraamte gespuit om die beendere bymekaar te hou. Dit is nou bewys dat mens en dier dood is as gevolg van hitte en nie versmoring, soos oorspronklik gedink is nie. Hitte van 250°C wat op ‘n afstand van 10km stu, kan onmiddellike dood veroorsaak. Hier sien mens afgietsels van mens en dier in die posisies waarin hulle dood is.

 

So kuier ons deur Sorento, Capri, Orvieto, Assisi, Florence en Pisa.  Te gou was ons oggend op ‘n einde!