Sirkel: Overberg

Tak: Kleinmond

Portefeulje: Gesondheid

Beriggewer: Hermien Van Zyl

Fotograaf: Cecile Jonkheid

Datum: 29 Februarie 2016

 

Dit is waarskynlik die gevolg as ’n oogkundige genooi word om die  Kleinmondse VLV-taklede toe te spreek in Februarie, die maand van die liefde.

 

Philip Obermeyer, een van die plaaslike oogkundiges, was die spreker by die Februarie- maandvergadering en het die dames toegespreek oor die verswakking van sig en die hulpmiddels beskikbaar om hierdie probleme aan te spreek. Sy baie interessante praatjie is toegelig met beeldmateriaal oor die samestelling van die menslike oog, oogkondisies en selfs watter voedsel help vir gesonde visie. Wortels eet is nie ‘n mite nie, so ook avokado’s, broccoli, spinasie, eiers, tamaties, sonneblomsaad, knoffel en vis, soos salm.

 

DSCN5938

 

Die gasvroue, paslik in iets rooi getooi, saam met die gasspreker.

V.l.n.r.: Marie la Grange, Hendriëtte Cruywagen, Sannie Bosman, Philip Obermeyer, Alice van Rooyen (uittredende saamroeper), Marie Thomas, Lizette van Jaarsveld en Lisbè Badenhorst (nuwe taksaamroeper vir Gesondheid).

 

Oogprobleme soos dowwer sig, is deel van normale veroudering (makulêre degenerasie), maar kan ook a.g.v. siektetoestande soos diabetes, gloukoom, katarakte of droë oë wees. Met die geweldige vooruitgang die laaste paar jaar in die ontwikkeling van ultramoderne instrumente wat vir oogondersoeke en regstellings gebruik word, moet persone met probleme vroeg by ‘n oogkundige uitkom. “As dit wat jy sien, vaal is, gaan spreek ‘n oogkundige, en as die voorgeskrewe bril nie aan jou verwagtings voldoen nie, of nie reg sit nie, gaan terug na hom toe, ‘n klein verstelling los soms ‘n groot probleem op” sê Obermeyer.

 

In haar voorlesing van C. J. Langenhoven se wyshede, het Lizette van Jaarsveld alles wat in hierdie liefdesmaand oor hierdie gevoel gesê en geskryf is, netjies saamgevat in hierdie èèn waardevolle aanhaling “Deur twee dinge is my lewe leefbaar gemaak: die liefde wat ek gegee het en die liefde wat ek ontvang het.”

 

715_10207556097572821_309652636619698159_n

Lynette van Jaarsveld besig met haar voorlesing

 

‘n Hoogtepunt was die aansteek van lidmaatskapknopies deur Annie Jooste, Visevoorsitter, vir lede wat baie lank aan VLV behoort. Dimsie Krone, ‘n voormalige sirkelpresident van sirkel Worcester, het haar 70 jaar-lidmaatskapknopie ontvang en J.C. van der Merwe haar een vir 50 jaar. Beide hierdie lede het diep spore in VLV getrap en was beoordelaars van formaat op wie se kundigheid die tak steeds kan staatmaak. Ander ontvangers van lidmaatskapknopies was Marie la Grange en Christine Lambrechts (beide 25 jr.), Johanna Groenewald en Hannetjie Lordan (beide 20 jr.), Etta Eksteen en Marietjie Janse van Vuuren (beide 10 jr.).

 

12733619_10207556137213812_3959715864357703565_n

Ninnie du Toit (Voorsitter), Dimsie Krone, J.C. van der Merwe en Annie Jooste (Visevoorsitter) nadat die jare-diensknopies aangesteek is.

 

DSCN5945

Marietjie Janse van Vuuren, Marie la Grange en Johanna Groenewald gesellig saam met Annie Jooste wat die diensknopies oorhandig het.

 

Nadat Annie Jooste aan die vergadering gedemonstreer het hoe om ‘n gerieflike drasak te maak vir ‘n bord of bakkie kos, het die vergadering verdaag om die verleidelike liefdeshappies te geniet wat deur die Gesondheidgroep, die gasvroue van die middag, voorgesit is.