Sirkel: Namakwaland

Tak: Hantam

Portefeulje: Opvoeding en Kultuur

Beriggewer: Janine Brynard

Datum: 19 Februarie 2016

 

Vir die meeste van ons, sal dit nooit moontlik wees om op ‘n vliegtuig te klim en ‘n eksotiese bestemming te besoek nie.  Dit beteken egter nie dat ‘n mens nie maar kan droom daarvan nie.  Wanneer dit dan gebeur dat jy die voorreg gegun word, om binne ‘n paar uur deur ‘n hele land, sy mense en sy tradisies te reis, bly dit ‘n grootse ervaring.

 

Tydens Hantam VLV se Opvoeding en Kultuurvergadering, het Nelia Schutte haar reis deur Japan met die dames gedeel.  Kompleet met ‘n digitale fotobeeld, tasbare kultuurskatte en selfs ‘n heerlike kulinêre ervaring agterna!

 

1

Nelia Schutte het tydens Hantam VLV se Opvoeding en Kultuurvergadering vertel van haar ervarings in Japan.  Hier bied sy van die heerlike tee aan om te proe.
Die besonderse kultuur van Japan is ‘n belewenis.  Enigiemand sou al foto’s of meer gesien het van die pragtige klein Geisha-vroutjies met hul wit gesiggies en kleurvolle kimono’s, sambrele, handwaaiertjies, origami-vormpies, lanterns en dan, natuurlik ook die asemrowende tempels, perfekte tuine, pragtige en geurige disse en, helaas, die kersiebloeisels!

 

2

Heerlike happies soos dit in Japan voorgesit word:  Onigiri (rysballetjies), Doriyaki met Tsubuan (plaatkoekies met heuning en ‘n rooiboontjievulsel) en Matcha (droë koekies met groen tee)

 

Japan is ‘n baie tradisievaste land met betekenisvolle gebruike en godsdienstige rituele wat aan die orde van die dag is.  Respek vir die medemens, die natuur en die gode, is ‘n uitstaande kenmerk.  Buddhisme en Sjintoïsme word beoefen in Japan en alhoewel die navolgers hiervan baie getrou die onderskeie rituele en gebruike nakom, beteken dit nie noodwendig geestelike diepte of toewyding aan enige geloof nie.

 

Die Japannese volk het ‘n werketiek wat min ander nasies kan nadoen.  Alles in die land is baie goed georden, maar veral ook baie skoon en netjies.  Dis ‘n volk wat beslis trots is op sy kultuur, tradisies en omgewing.  Voorwaar ‘n besoek werd!

 

3

Pragtige teepotjies en -koppies.  Die Japanese gebruik tee by enige seremonie en drink ‘n groot verskeidenheid heerlike, geurige tees.